Die Weg

 

Klein bietjie is baie

'Toe Jesus rondkyk en sien dat ‘n groot klomp mense na Hom toe aankom, sê Hy vir Filippus: "Waar kan ons brood gaan koop sodat die mense kan eet?" Dit het Hy net gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self goed geweet wat Hy gaan doen. Filippus antwoord Hom toe: "Twee honderd mense se dagloon is nie eers genoeg om elkeen van hulle ‘n stukkie brood te laat kry nie." ‘n Ander dissipel, Andreas, die broer van Simon Petrus, sê toe vir Hom: "Hier is ‘n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?"’ - Johannes 6:5-9.

Let op daardie klein woordjie “ons”. Die Here Jesus het reeds vooraf geweet wat Hy sou doen. Tog betrek hy sy dissipels as Hy vra: “Wat gaan ons doen?” Is dit nie vandag nog Sy metode in ons eie lewens nie? Hy ken die vermoeë van elke mens, en al is dit ook hoe swak of min, roep Hy ons om in gemeenskap met Hom na die geestelike en stoflike behoeftes van ander om te sien. Wat Hy in werklikheid sê, is: “Dis nie 'n saak vir My alleen of ook net vir julle nie, maar vir ons saam”.

Alhoewel Hy geweet het dat die probleem om so baie mense te voed nie op ‘n menslike wyse opgelos sou kon word nie, het Hy sy dissipels nogtans deel daarvan gemaak.

Hy het die hele uitkoms van die maaltyd, waarvan Hy die Gasheer sou wees, vooruit geweet. Hy het nogtans gepraat van koop, sodat Hy kon sien of hulle hul in eenvoudige geloof na Hom sou keer, en of hulle, volgens hul eie opvattinge in die behoefte sou probeer voorsien. Hulle volg laasgenoemde weg. Dis byna altyd die geval dat wanneer ons voor 'n noodtoestand te staan kom, ons 'n potlood en papier neem en ons ons eie middele en vermoëns begin bereken, net soos Filippus toe hy gesê het: "Twee honderd mense se dagloon is nie eers genoeg om elkeen van hulle ‘n stukkie brood te laat kry nie." Dis toe dat dit Andreas byval van die seuntjie wat hy in die loop van die dag gesien het. Die seuntjie het die bietjie wat hy gehad het vrywillig aangebied toe Jesus daarom vra. Met hierdie klein bietjie het Jesus ‘n wonderwerk verrig.

Hoe kan ons God dien en wat het ons om Hom te gee? Vyf garsbrode en twee vissies lyk nie veel op sigself nie. Maar Hy kan die armoedigste en eenvoudigste dinge neem en wondere daarmee laat geskied tot Sy eer en tot seën van mense.

Al het jy net ‘n klein bietjie, dank God vir hierdie gawe, en Hy sal daarmee wondere verrig. Al wat Hy vra is ons bereidwilligheid om te dien en om in Hom te glo. Die res sal Hy voorsien.

FB Meyer

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css