Die Weg

 

Naderende voetstappe in die natuur

"Want die een nasie sal teen die ander opstaan, en die een koninkryk teen die ander; en daar sal aardbewings wees op verskillende plekke, en daar sal hongersnode wees en beroeringe. Hierdie dinge is ‘n begin van die smarte" -
Markus 13:8 OAV.

Wanneer die natuurkragte in felle hewigheid losbreek, is God besig om sy oordeel te begin voltrek. Die tekens in die natuur is ook die uiting van die doodsworsteling van die skepping, wat op pad is na die einde. Maar meer nog: dit is die openbaring van die worstelling tussen lig en duisternis, tussen God en Satan. Aan die een kant sien ons daarin die mag en majesteit van God. Selfs die natuur werk mee in die verbreiding van die evangelie. Natuurrampe en ellende bring die mens op die knieë voor die hoë God. Aan die ander kant woel en werk die mag van die sonde om mense weg te trek van God. Steeds skerper en feller word die stryd teen God. Uiteindelik vloek en skel die verharde mens teen die Skepper wanneer die rampe en nood in die skepping hom tref.

Aardbewings versteur die rustige bestaan van die mens. Die aarde wankel onder hom. Stede en dorpe verdwyn. Duisende mense sterwe. Merk op die naderende voetstappe. Moenie dat dit by jou verbygaan nie.

Hongersnood maai duisende af. Dit is asof die natuur self sat is van die las om die mensdom te dra en te voed. Aan die ander kant word duisende tonne graan en voedsel vernietig, want daar is geen mark daarvoor nie. Enkelinge lewe in weelde en swelg in wellus. So gaan die Skrif in vervulling. Luister maar: “'n Rantsoen koring vir 'n penning en drie rantsoene gars vir 'n penning; en moenie die olie en die wyn beskadig nie” (Openb. 6:6 OAV). Aan die een kant die groot skaarste en nood, aan die anderkant groot weelde en voorspoed. Mense bekommer hulle nog oor olie en wyn - rykmansgenot - terwyl duisende veg om 'n stukkie brood te koop.

In die katastrofes van die ontwrigte ekonomiese en maatskaplike lewe klink die klokkegebeier wat die koms van die Koning aandui.

Ds. M. J. Booyens in “Tel die sterre”.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css