Die Weg

 

Christus - Meer as Moses en vir ewig getrou

Moses was as dienaar getrou ...Christus daarenteen is as Seun getrou” – Hebreërs 3:5-6.

Treffende woordspel om die musiek van God se verlossing deur sy Seun, Jesus Christus, helder in ons ore te laat klink! Ons hoor die herhalende strofes: “huis van God”. Dit eindig met die crescendo: “Ons is die huis van God”.

Het jy geweet dat die name Moses en Jesus van dieselfde Hebreeuse werkwoord kom? Beide word onthou vir die reddingswerk wat hulle gedoen het, en waarvan hulle name getuig. Hulle is verlossers. Moses uit Egipte, die grootste onder die grotes!

Maar in die laaste dae is ‘n groter Verlosser bekend gemaak. Hy was in verskillende opsigte soos Moses, maar tog veel meer. Daarom – moet nie van Hom afvallig word nie. Gryp steeds vaster aan Hom, sodat julle nie wegdryf nie (Heb 2:1).

Die eerste lesers van Hebreërs, wou wegdryf. Hulle was die kleinkinders van Jode, wat Jesus as Messias leer ken het, maar het begin twyfel in die waarde van hulle geloof. Hulle is vervolg, in die tronk gegooi, het hulle werk verloor – net omdat hulle Christene was. Watter sin het dit om te glo? Wat baat dit om Christen te wees as dit baie beproewing bring?

Beleef jy dit ook soms? Jy wonder oor die waarde van jou Christenskap. Wie is hierdie Christus wat ek volg? Waar is Hy in my beproewing?

Die Skrif moedig ons aan om nie die rug op Christus, die Gesalfde, te draai nie. Hy is veel meer as Moses, veel meer as enige menslike verlosser, geestelike leier of held op wie jy jou hoop sou kon plaas.

 “En ons is sy huis as ons maar net met moed en oortuiging bly vashou aan wat ons hoop.” (Heb 3:6)

Ons hoop en krag is alleen in Christus, die Seun van God. Bly vashou aan Hom. Dien Hom in sy kerk – Hy is die fondament en die sterkte van die huis van God.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css