Die Weg

 

Lewe in oorvloed

"Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed" - Johannes 10:10 NAV.
"omdat Ek lewe en julle sal lewe" - Johannes 14:19

Almal verstaan die verskil tussen ‘n lewe wat swak en sieklik is, en een wat vol lewenskrag is. Dit is wat Paulus in gedagte gehad het toe hy vir die Korintiërs gesê het dat hul lewens vleeslik en nie geestelik is nie. Soos babatjies wat nie vaste kos kon eet nie, kon hulle nie die dieper waarhede van die evangelie verstaan nie (1 Kor 3:1-2).

Daar is baie Christene wat nie verder kom as die basiese beginsels van die evangelie nie. Daar is net ‘n klein minderheid wat ‘n toonbeeld is van die oorvloedige rykdom van God se genade. Ons sien dit ook regdeur die geskiedenis van die kerk. Selfs vandag nog is daar maar min gelowiges wat met hulle hele hart vir God leef en die oorvloedige rykdom vertoon wat hulle in God besit.

Christene moet kennis neem van hoe armoedig hulle geestelike lewens werklik is. Hulle moet daarop gewys word dat dit beslis God se bedoeling met hulle is om ‘n  lewe van oorvloed in die volheid van die Gees te besit.

Christus leer vir ons in Johannes 10:10 dat Sy eie lewe ons s’n sal word, en dat ons met Hom een sal word, net soos Hy een is met die Vader. In Johannes 14:19 sê Hy:  “omdat Ek lewe en julle sal lewe”. Jesus het nie hier aan hulle die lewe beloof soos Hy dit op daardie tydstip gehad het nie, maar wel Sy toekomstige herrysde lewe – die lewe van oorwinning oor die dood aan die regterhand van God. Vanuit hierdie plek van verheerliking sou Hy in hulle woon. Hulle sou ‘n nuwe hemelse ewige lewe ontvang. Hulle sou vervul wees met die oorwinnende lewe van Jesus. En daardie belofte bly staan vir almal wat dit in die geloof aanvaar, vandag nog.

Te dikwels is daar dié wat maar tevrede is met die eerste, basiese treetjies van die Christelike lewe, maar nooit verder soek na die vrugbaarder lewe in Christus nie. Miskien glo hulle nie daarin nie, of hulle is nie gereed vir dit wat ‘n ten volle vervulde lewe in Christus meebring nie.

Vra jouself af of jy die oorvloedige lewe leef wat Jesus vir jou kom gee het. Indien wel, sal dit duidelik wees in jou liefde vir jou Verlosser. Jy sal geestelike vrugte dra tot eer van God, sodat jy ook ander vir die Koninkryk van God sal wen. As dit egter nie die geval is nie, bid dan tot God om jou in hierdie oorvloed van geestelike rykdom te laat deel. Laat dit die begeerte van jou hart wees dat jy met niks minder te vrede sal wees as dat Christus in jou en jy in Christus sal lewe nie. Vir hulle wat opreg glo is alles moontlik deur God wat dit aan hulle sal gee.

Dr Andrew Murray

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css