Die Weg

 

Is die Bybel die geïnspireerde Woord van God?

(In die plek van die "Boodskap vir die dag" plaas ons vandag die volgende interssante brokkie inligting)

Tydens 'n onlangse toespraak by 'n universiteit het een van die studente vir my die volgende vraag gevra "Waarom glo jy dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is?" Hierdie is waarskynlik die belangrikste vraag wat enige Christen homself kan vra. Waarom glo Christene dat die Bybel so spesiaal is, so uniek is, dat dit letterlik die geïnspireerde Woord van God is?

Om die student se vraag te beantwoord het ek hom aangemoedig om die volgende feite van die Bybel te oorweeg:

Eerstens:  die Bybel is nie net 'n enkele boek nie. Hierdie wanindruk bestaan veral tussen mense sonder 'n Christelike agtergrond. Die Bybel bestaan uit 'n reeks van 66 boeke wat bekend staan as die 'Kanon van Skrifte'. Hierdie 66 boeke bestaan uit 'n verskeidenheid van onderwerpe naamlik geskiedenis, digkuns, profesieë, letterkundige wysheid, briewe en openbaringe om slegs 'n paar op te noem.

Tweedens: die 66 boeke is deur 40 verskillende outeurs geskryf. Hierdie outeurs kom van verskillende agtergronde: skaapwagters, vissermanne, dokters, konings, profete en ander. Die meerderheid van hierdie outeurs het mekaar nooit persoonlik geken nie.

Derdens: hierdie 66 boeke is oor 'n periode van 1500 jaar geskryf. Dit is 'n bewys dat baie van hierdie outeurs mekaar nie geken of kon saamwerk om hierdie boeke te skryf nie.

Vierdens: hierdie 66 boeke van die Bybel is in 3 verskillende tale geskryf. Die boeke van die Bybel was oorspronklik in outydse tale geskryf naamlik Hebreeus, Grieks en Aramees. Dit is 'n refleksie van die historiese en kulturele omstandighede waarin die boeke geskryf is.

En laastens: hierdie 66 boeke is op 3 verskillende kontinente geskryf naamlik Afrika, Asië en Europa. Dit is weereens 'n getuienis ten opsigte van die uiteenlopende historiese en kulturele omstandighede van God se mense.

Dink aan die bogenoemde realiteite: 66 boeke, geskryf deur 40 outeurs, oor 1500 jaar, in 3 verskillende tale, op 3 verskillende kontinente. Wat meer is, hierdie versameling van boeke deel gemeenskaplike storielyne naamlik die skepping, val en verlossing van God se mense; 'n gemeenskaplike tema - God se universele liefde vir almal; en 'n gemeenskaplike boodskap - redding is beskikbaar vir almal wat berou het oor hul sonde en wat hulle daartoe verbind om God met hul hele hart, siel, verstand en krag te volg. Hierdie 66 boeke beskik oor geen historiese foute of afwykings nie. God se Woord is werklik 'n wonderlike versameling van geskrifte!

Nadat ek die bogenoemde feite met die student gedeel het, daag ek hom uit: “As jy nie glo dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is nie, as jy nie glo dat die Bybel 'n geestelike oorsprong het nie, dan daag ek jou uit om die volgende toets af te lê”. Ek sê toe aan die student: “Ek daag jou uit om na enige biblioteek in die wêreld te gaan, jy kan na enige biblioteek van jou keuse gaan om 66 boeke met dieselfde karaktertrekke as die 66 boeke in die Bybel te vind. Jy moet 66 boeke kies, geskryf deur 40 verskillende outeurs, oor 'n tydperk van 1500 jaar, in 3 verskillende tale, geskryf op 3 verskillende kontinente. Die boeke moet egter 'n gemeenskaplike storielyn, 'n gemeenskaplike tema en 'n gemeenskaplike boodskap, met geen historiese foute of weersprekings hê nie”. Ek het verder gegaan en gesê: “As jy so 'n reeks boeke kan vind, sal ek erken dat die Bybel nie die geïnspireerde Woord van God is nie”. Die student het bykans onmiddellik geantwoord: “Maar dit is onmoontlik!”

Dit is onmoontlik, vir enige reeks van menslike skrywes. Maar die Bybel slaag hierdie toets. Die Bybel bestaan uit 66 boeke, geskryf deur 40 outeurs, oor 'n tydperk van 1500 jaar, in 3 verskillende tale, op 3 verskillende kontinente, met geen historiese foute of weersprekings nie. Die Bybel, van Genesis tot Openbaring, dra die merk van Goddelike inspirasie.

Die volgende keer wat iemand vir jou vra hoekom jy glo dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is, deel die uitdaging met hulle. Nog beter, moet nie wag totdat hulle jou vra nie, gaan voort en deel vandag nog hierdie uitdaging met 'n vriend ... Jy hoef nie eers die Bybel te noem nie, vra hulle net of hulle dink dat dit realisties is om so 'n reeks boeke te versamel.

Dr Ron Carlson (Christian Ministries International) (Gepubliseer met goedkeuring van Jason Carlson).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css