Die Weg

 

Geestelike toeriste?

"So sê die HERE van hierdie volk: Só het hulle daarvan gehou om te swerwe" - Jeremia 14:10 OAV.

Ons ken almal toeriste en soms raak ‘n mens geïrriteerd as daar te veel toeriste in jou buurt is. Ook Israel het hulle goed geken. Reisigers wat van stad tot stad rondfladder maar steeds net vreemdelinge bly. Hulle kom net vir ‘n kort tydjie, versamel aandenkings en vertrek dan weer, sonder dat hulle te veel begaan is oor die lot van die land en sy mense.

In Jeremia 14 word daar twee maal van sulke toeriste gepraat. In vers 8 hoor ons die gebed van Jeremia, maar dis 'n gebed om van te sidder!  Jeremia sê in sy gebed teenoor God: “Waarom sou U wees soos 'n vreemdeling in die land en soos 'n reisiger wat uitdraai om te vernag?

Juda was in die greep van ‘n groot droogte en dit wou voorkom asof God die lot van die volk nie meer aangetrek het nie. God hoor skynbaar nie hulle smeekgebed nie.

Maar dan antwoord God:  “So het hulle daarvan gehou om te swerwe”. God verwyt die volk omdat hulle aan geestelike toerisme ly!

Eers het hulle hul heil by die Baäls gaan soek, maar as daar geen hulp uit daardie rigting kom nie, probeer hulle dit maar weer by die HERE. Hulle verwag dat God hulle moet seën, maar hulle wil nie die God wat die seëninge moet verskaf met hul hart eer nie. Hulle wandel sonder God, maar noudat hulle in nood verkeer, nou draai hulle uit na God toe. Daarom hierdie verwyt.

Ly ons nie miskien ook aan hierdie geestelike toerisme nie? Wil ons nie ook maar net 'n goeie bestaan hier hê nie, sonder ‘n heilige belangstelling in en liefde vir God se diens?

Is daar onder ons sulke toeriste wat so af en toe 'n uitstappie maak na die erediens, byvoorbeeld met 'n troue, ‘n doop, of 'n begrafnis? Mense met mooi aandenkings van die kerk: 'n sangbundel en 'n met stof bedekte Bybel, maar mense wat hulle die lot van God se volk, die Kerk, nie aantrek nie?

God is geen vreemdeling by ons nie. In Christus het Hy onder ons kom woon. Moet daarom nie in jou godsdiens ‘n swerwer word nie! Wandel elke dag met God.

Oorspronklik deur Dr B Duvenhage in “Tel die Sterre” (effens verwerk).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css