Die Weg

 

Om in gemeenskap met God te lewe

"Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus" – 1 Johannes 1:3 NAV.

Dat ons in gemeenskap met God kan lewe is ‘n uitsonderlike seën wat ons deur Jesus Christus ontvang. Christus het gesterf sodat daar weer versoening tussen God en ons gebring kon word, sodat dié wat verlore was weer na die Vader se huis kon terugkeer om in die liefde van die Vader te lewe. Deur Sy bloed het Hy ‘n nuwe en lewende weg na die Heiligdom bewerkstellig waar ons in die lig van God mag wandel.  Die belofte is: "die Here sal vir jou ‘n ewige lig wees, en jy sal roem in jou God" (Jes 60:19 NAV).

Hierdie gemeenskap wat ons met God mag en moet hou, is iets wat baie keer oor die hoof gesien word. Ons plaas baie klem op bekering, vergewing van sondes en ‘n wonderlike, veilige hawe na die dood, maar vergeet gewoonlik van ons gemeenskap met die Vader en Jesus Christus.  Dat baie gelowiges se geestelike lewe op ‘n lae vlak is, is juis te wyte aan die feit dat baie van ons nie besef dat die werklike doel van bekering eintlik is om ons siel, selfs hier op aarde, in ‘n daaglikse gemeenskap met die Vader in die hemel te bring nie, soos dit was voor die sondeval.  Dit is belangrik dat ons in gemeenskap met God sal lewe, want daarin lê die geheim van ‘n heilige en aan God welgevallige lewe. Die apostel Johannes skryf:  "en ons gemeenskap is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus" ( 1 Joh 1:3 OAV).

Ons daaglikse gemeenskap met God is ons enigste bron van krag. As gemeenskap met God dan die seën van die evangelie is, moet dit ook in ons daaglikse lewe met God na vore kom. Wanneer ons dit werklik uitlewe, sal ons die wonder en vreugde van hierdie ondervinding ook aan ander wil vertel.

Mag gemeenskap met die Vader en die Seun ons daaglikse ondervinding wees – in ons stiltetye, in ons daaglikse werk, in ons getuienis teenoor ander wanneer ons hulle uitnooi om deel te hê aan dieselfde roemryke verlossing.

 Dr Andrew Murray

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css