Die Weg

 

Kommersiële eiebelang

"Ons bedryf staan in gevaar om ‘n slegte naam te kry. En nie net dit nie. Die gevaar is ook dat die tempel van die groot godin Artemis sy betekenis sal verloor en dat sy van haar grootheid berowe sal word, hierdie godin wat in die hele provinsie Asië en oor die hele wêreld vereer word." - Handelinge 19:27 NAV.

Paulus se verblyf in Efese eindig met ‘n oproer wat deur Demetrius aangesteek is. Hy het om finansiële redes seker alle reg daartoe gehad. Daar is dele van die maatskaplike lewe wat geraak word wanneer die Evangelie ter sprake kom. So was daar in die pelgrimsoord Efese ‘n bloeiende handel in aandenkings. Mense wat gekom het om die Artemis- of Dianabeeld te aanbid (‘n beeld wat volgens die Efesiërs uit die hemel neergedaal het)  was goeie klante van Demetrius. Demetrius het naamlik silwer modelle van die tempel verkoop. Deur die verkondiging van die Evangelie begin sy bedryf agteruitgaan. Die nuwe godsdiens laat die middestand skade ly. Daarom belê Demetrius ‘n groot vergadering van die silwersmid-gilde. Hy raak die eintlike, pynlike onderwerp, die verminderende verdienste wel aan, maar mooi verpak in ‘n ander omhulsel: die trots op hul stad met die mooi tempel en ‘n roerende besorgdheid oor die verering en aanbidding van hul godin. Sy eintlike doel, die beskerming van die silwersmede en hul inkomste, word nie openlik bespreek nie. Die eiebelang word getooi in ideale en beginsels!

Demetrius het die pot reg op die vuur geplaas. Dit word ‘n magtige spreekkoor: "Groot is Artemis van die Efesiërs!" Dit is egter nie sonder ‘n tikkie humor nie, want by die groot oproer wat in die amfiteater volg, het die meeste van die oproeriges nie eens geweet waaroor dit eintlik gaan nie: "Die meeste mense het nie geweet hoekom hulle daar bymekaar was nie" (vers 32). Uiteindelik het die stadsklerk met ‘n paar nugtere opmerkings die oproer gestuit.

Demetrius bly ‘n voorbeeld van die mens wat sy persoonlike belange in ander gewade kan klee, selfs die kleed van godsdiens as dit daarop aankom. Van buite lyk alles so besonder opreg, so diep godsdienstig, so heilig verontwaardig. Maar van binne is dit suiwere eiebelang. Die Demetrius-verskynsel word nie net in die heidendom aangetref nie, maar ook binne die Christendom.

Uit: G.N. Lammers – Ontmoetingen
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css