Die Weg

 

Waar geld meer waarde het as 'n menselewe

"Toe haar eienaars sien dat sy nie meer geld vir hulle kan inbring nie, het hulle vir Paulus en Silas gegryp en hulle na die owerheid toe op die stadsplein gesleep" - Handelinge 16:19 NAV.

Op Paulus se tweede sendingsreis doen hy Filippi aan. Hier in Filippi maak Paulus kennis met twee vroue. Die eerste se naam was Lidia. Sy was ‘n baie welgestelde en invloedryke vrou wat handel gedryf het in pers wolmateriaal. Sy het die evangelie aanvaar, het gelowig geword, en sy en haar hele familie is gedoop. Sy het haar hart vir Christus en haar medemens oopgemaak: "En toe sy en haar huisgesin gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê: As u oordeel dat ek in die Here glo, kom dan in my huis en bly daar" (Hand 16:15 OAV).

Maar daar was ook ‘n tweede vrou. Sy was ‘n slavin wat in die mag van ‘n waarsêersgees was. “Sy self het onder groot spanning verkeer as gevolg van haar geestestoestand, maar haar eienaars het dit skaamteloos vir eie gewin misbruik” (Bybel in Praktyk). Sy loop vir dae agter Paulus aan en skreeu: “Hierdie mense is dienaars van God, die Allerhoogste! Hulle vertel vir julle hoe julle gered kan word” (Hand 16:17). Wat sy daar uitgeskree het was natuurlik waar. Maar as dit vir baie dae so aanhou besluit Paulus om ‘n einde daaraan te maak omdat die mense kon dink dat hy iets met die bedrywighede van die duiwel te doen het. Hy dryf die gees in die naam van Jesus Christus uit die vrou uit. Hierdie mens word bevry uit die dodelike greep van die duiwel!

Haar eienaars verheug hulle egter geensins in die verlossing van die slavin uit haar geestestoestand nie. Vir hulle was sy nie ‘n mens nie, maar ‘n geldbron. Nou het hierdie bron opgedroog! Hulle vra hulleself ook nie af of dit wel waar kon wees dat hier mense is wat die weg tot redding verkondig nie. Hulle is nie daarin geïnteresseerd nie. Daar is by hulle maar net een gedagte: hulle is finansieel benadeel. Daarom moet hierdie mense uit die samelewing verwyder word.

As ‘n mens ‘n rede soek is daar altyd beskuldigings met goedklinkende argumente te vinde. Jy kan dit altyd oor die boeg gooi van jou besorgdheid oor gevestigde sedes as dit daarop aankom. Paulus en Silas word dus geslaan, in die tronk gegooi en in houtblokke vasgeklem.

Geld word deur baie mense verheerlik en meedoënloos nagejaag, veral waar dit met hebsug en mag gepaard gaan. Dan verloor daardie mense die werklike doel van die lewe uit die oog en oorskry alle grense. Ons hoor en lees dit dag vir dag. Is dit dan nog nodig om iets verder daaroor te sê? Die wêreld sê: “Hoe kan ons die ‘weg tot redding’ met geld meet? Wil jy ‘n vaagheid êrens in die lug probeer vergelyk met die tasbaarheid van klinkende munt? Saligheid en lewensgeluk is om geld te hê, want geld bring mag: mag oor en deur ander mense”. Maar die Bybel sê: ”....Hierdie mense is droë fonteine, miswolke wat deur ‘n stormwind voortgejaag word. Vir hulle word in die diepste duisternis plek gehou” (2 Petrus 2:17).

Lidia het die doel van die lewe en die weg tot redding deur Jesus Christus raakgesien en dit aangegryp. Maar die eienaars van die slavin het dit gemis omdat hulle hul saligheid op ‘n verkeerde plek, by Mammon, gaan soek het. Vir hulle geld die woorde van 2 Petrus 2:14-17.

- dw -

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css