Die Weg

 

Waarvoor en vir wie veg jy?

"Met hierdie woorde in gedagte, moet jy die goeie stryd stry" - 1 Timoteus 1:18 (NAV).

‘n Mens kom vegters en stryders op alle gebiede van die lewe teë. Mense veg en stry vir hulle name, beroepe, geld, roem, lewe en geluk. Hulle veg vir die wêreld en vir die mensheid. ‘n Mens kry ook stoeiers en stryders in die stoeikryt, op die renbaan, in laboratoriums, aan universiteite, in sakeondernemings, in hospitale, skole en kerke. Daar word gestry met die pen, die mond, die vuis en wat ookal op ‘n spesifieke oomblik voorhande is.

Paulus konfronteer ons met ‘n stryder wat in alle opsigte kragtig en vol moed is. So moet julle ook wees, roep hy ons toe. Dit is begryplik, want dit gaan hier om ‘n goeie en edele stryd. Die einddoel is nie eie roem of die welsyn van die mensheid nie, maar die eer en heerlikheid van “die Koning van alle eeue, die onverganklike, die onsienlike en enige God”. Kan jy jouself ‘n hoër doel indink? Bowendien, as hierdie doel bereik is, dan word ook die welsyn van die wêreld daarmee gedien en jou eie heerlikheid verseker. Wie naamlik in hierdie stryd volhard tot die einde toe, hy sal gered word! (Mat 24:13).

Die stryder wat vir hierdie edele doel stry word self edel van karakter omdat hy gevorm word in sy geloof en goeie gewete. Hy gebruik geen gemene truuks, geen oneerlike metodes, geen geweld of verkragting van die reg nie. Hy stry op ‘n wettige manier volgens die reëls.

Waarvoor veg jy? En hoe? Ons is so behep met kleinighede, met verganklikhede, met dinge waar ons op ons oudag dikwels van kan sê: “was dit alles die moeite werd?”  Kom, trek die volle wapenrusting aan wat God jou gee (Ef 6:11-13) en werp jouself ten volle in die edele stryd! Dan kry die lewe sin. So sal jy self die lewe as kroon ontvang (open 2:10).

Ds C Gilhuis in: Ontmoetingen.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css