Die Weg

 

God se stem in die seisoene

U wat al die seisoene van die aarde vasgestel het; somer en winter is die werk van u hand” - Psalm 74:17.

Vir my is die skepping soos ‘n stem van God, of soos ‘n groot boek, waarin ‘n mens van die grootheid en almag van die Skepper, ons Vader in die hemel, kan lees. Die ander Boek, waaruit hierdie skeppingsboek se waarde bevestig word, is die Bybel, God se Woord in mensetaal. Daar is egter mense wat nie die hand van God in die skepping raaksien nie. Dan word van Moeder Natuur gepraat, asof dit ‘n krag in haarself het, wat die reën bring, wat somer en winter laat afwissel.

Juis wanneer die land bibber in koue, as die foto’s van sneeu en winterreën in die nuus vertoon word, dan onthou ‘n mens die uitsprake van die Bybel oor winter en somer. Die oorgang van seisoene is nie maar toevallighede nie. Dit is nie aan die willekeur van die natuur oorgelaat nie. Nee, God wat alles geskep het, hou alles nog in stand. Die Psalmdigter sing daarvan: “U wat al die seisoene van die aarde vasgestel het; somer en winter is die werk van u hand.” (Ps 74:17)

Op die vierde skeppingsdag is die ligte geskep, wat as tekens sou dien om seisoene, dae en jare aan te dui (Gen 1:14). Hoe ervaar ons dit nie met die besondere manier waarop die aarde skuins om sy as draai, sodat die son in die winter ver noord gaan draai en die suidelike halfrond winter laat beleef nie! Na die sondvloed in Noag se tyd beloof die almagtige Skepper in ‘n verbond: “So lank as die aarde bly bestaan, sal saaityd en oestyd nie ophou nie, ook nie koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie.” (Gen 8:22).

Wanneer God sy almag aan Job bekend maak, vat Hy hom na sy skepping toe. Met heelwat vrae bring die Skepper vir ons tot die besef van ons kleinheid en sy majesteit. So hoor ons: “Was jy al by die plek waar die sneeu gebêre word?” (Job 38:22). Ons kan vandag met baie weerkundige kennis waarskuwings oor die sneeu en koue uitreik, maar ons kan dit nie beheer nie.

Luister na God se stem en lees in die winterseisoen weer aandagtig in God se skeppingsboek. Besef weer sy grootheid en almag. Prys Hom daarvoor in die woorde van Psalm 148:8-12: “Prys die Here van die aarde af, seediere en al die oseane, weerlig en hael, sneeu en miswolke, stormwind wat sy opdrag gehoorsaam, berge, al die heuwels, vrugtebome, al die seders, wilde diere, al die vee, al wat kruip of vlieg, konings van die aarde, alle volke, vorste, alle regeerders van die aarde, jong manne en meisies, grysaards saam met seuns!"

Seën en genade vir hierdie dag toegebid.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)


 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css