Die Weg

 

Die eienaar van alle geskape dinge, is my HERE.

"Ek ken al die voëls van die berge; al wat roer op die veld, is Myne". – Psalm 50:11

Vanoggend gesels die Bosveldtjiriktik, met sy helder stemmetjie, uit die boom voor my studeerkamer met my. ‘n Klein voëltjie met ‘n wye verskeidenheid liedjies en geselsies, waarmee hy die wêreld van sy blydskap vertel. Intussen hop dit van een takkie na die ander en vang klein insekte vir sy ontbyt.

En dan kom die Psalm se woorde in my gedagtes op: “Ek ken al die voëls van die berge; ...”, sê die Here. “Alles wat roer op die veld, is Myne”, sê Hy. Ja, my huis staan nou nie in die berge nie, maar die Here ken ook die klein grys Tjiriktik, met sy helder stemmetjie. Hoe groot is die Skepper, maar hoe naby aan ons is Hy nie!

En hierdie Psalm, wat ‘n ernstige vermaning inhou, leer juis vir ons dat ons God nie moet probeer omkoop of beïndruk met offerandes, geskenke, wat reeds aan Hom behoort nie. Die ou Israeliete moes nog gereeld diere aan die Here offer as deel van hulle godsdiens. Ons het in Christus vryheid daarvan gekry, maar tog verwag die Here in wese van ons dieselfde as van hulle. Die Here wil nie met dinge gedien word nie, maar met ons harte.

Hy laat die Psalmdigter skryf: “Lof is die offer wat jy aan God moet bring.” (Ps 50:14). En as ons Hom met die regte gesindheid loof, omdat alles aan Hom behoort, sal ons gesindheid ook reg wees om van Hom alles te verwag wat ons daagliks nodig het. Hy sorg vir ons en vir sy hele skepping. Daarom kan ons Hom met vrymoedigheid aanroep op die dag van benoudheid.

My gebed is vir vandag dat ek en jy, soos die Bosveldtjiriktik, die Here sal loof. Met uitbundigheid sal loof in alles wat ons vandag ervaar. Die grootse aansporing daarvoor is die sekerheid dat die almagtige Skepper ons ken, maar ook dat Hy vir ons in Jesus Christus sê: Jy is myne. Vry gekoop deur die kosbare bloed van my Seun.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css