Die Weg

 

Op pad na ons Vaderland

Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag”  - Fil 3:20.

Paulus was ‘n Jood en hy was trots daarop (Hand 22:3, 1 Kor 9:20). Dat hy ook ‘n Romeinse burger was, het hy nooit ontken of weggesteek nie (Hand 22:25). Hy het dit inderdaad ook soms tot sy eie voordeel aangewend. Maar bo alles het dit vir hom gegaan oor sy burgerskap van die hemelse Koninkryk. Dit was waar sy skat en sy hart was. Hy het die woorde van die Here Jesus uitgeleef: "Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee. Verkoop julle besittings en gee bydraes vir die armes. Skaf vir julle ‘n beurs aan wat nie leeg raak nie, ‘n onuitputlike rykdom in die hemel, waar geen dief dit kan bykom en geen mot dit kan verniel nie. Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees." (Luk 12:32-34 NAV).

Natuurlik is dit ons plig om goeie burgers van die land te wees waarin ons ons hier bevind. Maar ons moet verder as die horison kyk ....

Die vaderland van elke kind is waar hy gebore is....by sy vader. Die eintlike vaderland van die kind van God is ... by die Vader! Daarom moet ons nie ons tentpenne hier te diep in die grond inslaan nie. Terwyl dit ons plig is om hier van harte mee te leef, mee te doen, en mee te werk in alles wat goed en reg is, omdat dit ook ‘n opdrag van God is (Tit 3:1), moet ons tog besef dat ons in werklikheid net reisigers is. Ons is kinders wat op weg is na ons Vaderland en Vaderhuis. 

Wanneer ons nog jonk is, kan ons ons so maklik in die teenwoordige wêreld inleef. Hoe ouer ons egter word, hoe meer maak God dit aan ons duidelik dat ons eintlik op pad is na ons hemelse Vaderland. God stuur die storms van die lewe, sodat die penne wat ons dalk te diep ingeslaan het, ‘n bietjie losgewoel kan word. Met sy goddelike wysheid dwing Hy ons in die rigting wat Hy vir ons bedoel het. Hy leer ons om die verganklikheid van die mooiste en dierbaarste dinge wat ons hier het, raak te sien. Hy maak ons stelselmatig daarvan los.

Ons is dalk vreemdelinge op aarde .... maar geen vreemdelinge by God nie. Daar sal ‘n tyd kom wat ons nie meer aan ons vreemdelingskap van die verlede sal dink nie, want dan is ons in ons Vaderland!

“maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was” (Heb 11:13).

-dw- (Gebaseer op “Vreemdelingen op Aarde” in Avondzegen – Ds W Schouten en Ds S de Vries)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css