Die Weg

 

Om te triomfeer

"My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard" - Jakobus 1:2-3 NAV.

Margaret Bottome (1825 - 1903) het gesê: “’n Mens se godsdiens is net so diep as wat hy dit in beproewings toon”. Watter voorbeeld was die manne wat in die vuuroond gegooi is dan nie! Deur hulle geloof in God, en sodat die Naam van God deur al die nasies verheerlik kon word, het Hy hulle sonder letsel en ook sonder hul boeie uit die vuuroond laat kom. Dit het Nebukadnesar laat sê:  "Aan die God van Sadrag, Mesag en Abednego kom die eer toe, Hy wat sy engel gestuur het en sy dienaars gered het. Hulle het op hulle God vertrou en het die koninklike bevel verontagsaam en hulle was bereid om hulle lewe te verloor eerder as om enige god behalwe húlle God te dien of te aanbid”( Daniël 3:28 NAV).

Net so moet elke Christen ook soms deur ‘n vuurproef gaan. Jakobus sê tereg dat die beproewings ‘n toets is vir ons geloof. Hierdie beproewings toets ook nie net ons geloof nie, maar dit maak ons ook geestelik sterk. Wanneer ons geestelik sterk geword het, stel dit ons in staat om te kan volhard, tot die einde toe. "Aan elkeen wat die oorwinning behaal en tot die einde toe volhou om te doen wat Ek wil hê, sal Ek mag en gesag oor die nasies gee" (Open 2:26).

Elke beproewing wat deurstaan word is ‘n triomf (oorwinning) vir die Christen. Daar is baie beproewings wat ons op ons weg deur die lewe kan teëkom. Daar is die vervolging van Christene soos in die tyd waarin Jakobus sy brief geskryf het en wat vandag ook nog voorkom. Nader aan ons is dit die omstandighede waarin ons lewe. Ons kan finansiële probleme ondervind, of ernstige siekte of selfs die liggaamlike dood kan op ons pad kom. Maar as ons tot die einde toe in ons geloof volhard, is ons meer as oorwinnaars deur Jesus Christus (Rom 8:37). Deur die geloof behaal ons die oorwinnings, en elke oorwinning wat ons behaal, versterk ons geloof net meer.

Ons lewe bestaan uit laagtepunte (dale) en hoogtepunte (hoogtes). ‘n Dal is die tyd van beproewing. Maar dan is daar ook weer die hoogte waarvandaan ons kan afkyk na die weg wat ons afgelê het en vanwaar ons ons triomflied tot eer van God kan aanhef. “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig” (Ps 23:4 NAV).

Is daar nie iets betowerends in die gesig van ‘n man of ‘n vrou wat nieteenstaande moeilike omstandighede, elke dag blymoedig aanpak nie? Is daar nie iets aansteekliks in die loflied van iemand wat as oorwinnaar uit ‘n swaar beproewing kom nie? Is dit nie bemoedigend om iemand te sien wat, alhoewel gebroke na die liggaam, tog nog die glans van die geloof behou nie? Hulle lewens getuig van die genade wat die geloof in Jesus Christus in sy mense werk!

Gebaseer op ‘n gedagte in: Streams in the desert van Chas E Cowman.


 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css