Die Weg

 

Wanneer laas was jy berg toe om na God te luister?

Moses het teen die berg uitgeklim na God toe - Eksodus 19:3.
Nadat Hy (Jesus) die mense weggestuur het, het Hy  alleen na die berg toe gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen. 
- Matteus 14:23.

Daar is iets aan ‘n berg, iets groots, byna heilig, eenkant en afgesonder, ‘n ontmoetingsplek, ‘n uitsigplek.

Moses het God by Horeb ontmoet toe Hy uit die brandende doringbos met hom gepraat het. Daar is beloof dat Hy met hom sal wees wanneer hy die Israeliete uit die Egiptiese slawerny moet lei. Drie maande nadat die Israeliete bevry is, is hulle weer by Sinai. Moses klim op na die berg om God te ontmoet. Aangrypende gebeure speel af. God praat, Hy beloof, Hy verskyn in kragtige tekens – weerligte, donderslae, klank van ramshorings, aardbewings, rookwolke. Die HERE herinner dat Hy hulle soos op arendsvlerke veilig gedra het. Hulle kry beloftes dat wie aan die HERE gehoorsaam is sy seën sal ontvang. Hulle sal Sy eiendom wees, ’n koninkryk wat Hom as priesters dien en ’n gewyde nasie.

Eeue later lees ons van Jesus, die Seun van God, wat ook gereeld berg toe gegaan het. Hy het gaan rus, gaan bid, krag vir die taak wat Hy moes uitvoer versamel. Dikwels was dit na uitputtende werk, ander kere weer voor groot besluite. Sonder daardie bergafsondering van ons Here Jesus kan jy sy werk nie indink nie.

Ek het ook ‘n “berg”, waar ek my van tyd tot tyd afsonder vir gebed en stil wees voor God. Soms het dit meer waarde as ander kere. Soms laat ek dit na om berg toe te gaan, tot my eie nadeel. Maar wanneer ek getrou my “berg” bestyg, word my geestelike krag versterk, my visie weer gefokus, my verhouding met God en my naaste (vir wie ek kon bid) versterk.

My “berg” is ‘n stoel in my studeerkamer, soms die veld, soms ‘n kampafsondering.

Het jy ‘n “berg” waarheen jy gereeld kan gaan?

Moses se bergontmoeting met God was noodsaaklik. Daarsonder sou hy God nie as HERE geken het, respekteer het, sy wil gehoor het nie, nie leier van die volk kon wees nie.

Jesus se voorbeeld spreek boekdele van die noodsaak van eenkant gaan en bid.

Kom, volg vandag die voorbeeld van ons voorgangers. Gaan gereeld na jou berg toe om jou God te ontmoet.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)


 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css