Die Weg

 

Blydskap in beproewing (1)

 “Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus”  - 1 Petrus 1:6-9 NAV.

Dit is maar moeilik om voortdurend bly te wees. Die omstandighede leen hom nie altyd daarvoor nie. Daar is so baie in die wêreld, en selfs in die kerk, wat ons treurig stem. Daar is mense onder ons wat reeds moed opgegee het en daar is ander wat op die punt staan om alle moed te verloor. Dan hoor ons ook nog: die kerk stel ons teleur.

Maar dit is niks nuuts nie. Ons moet daarop voorbereid wees. Dit is maar droewig as ons blydskap net afhang van wat ons hier moet beleef. As dit daarvan sou afhang, dan het daar van die verstrooide gelowiges in Klein-Asië, aan wie Petrus hier skryf, ook niks tereggekom nie. En dan sou die kerk van die Here in hierdie wêreld nooit aan haar roeping kon beantwoord nie. Die roeping van die kerk is om bly te wees. As die blydskap in die kerk ontbreek dan ontbreek dit aan die bewys dat sy van Jesus Christus is. Want ons verheug ons in die erfenis wat vir ons in die hemel bewaar word en wat aan ons geopenbaar sal word by die wederkoms van Jesus Christus.

Wie hierdie blydskap ken, sal ook droefheid ken, maar sal in alle omstandighede die geloof behou.

Wat Petrus hier sê gaan oor die vreugde wat ons in Christus het: in die lewe wat Hy vir ons deur Sy opstanding uit die dode verwerf het. Dit is die onverganklike en onbesmette erfenis (vers 4). Daarin is ons blydskap. En dit is geen blydskap wat ons moet verberg nie, maar dit is ‘n blydskap wat in ons woord en daad uiting moet vind. Daarvan kan ons sing en daaroor kan ons in vervoering raak. Want dit stel nie teleur nie. Daardeur kan ek die gebrokenheid en pyn van hierdie wêreld verdra. Want ek is nie afhanklik van wat hier gebeur nie, maar wel afhanklik van wat in die hemel is. Onverganklik en onbesmet.

Dan kyk ek verby al die probleme van hierdie wêreld en sien die volkome skoonheid. In plaas daarvan om te sê: “hoe anders kon dit tog nie gewees het nie”, laat ons eerder sê:  “niemand kan Christus se koms terughou nie”. Dan sal ons sien wat dit werklik beteken om te kan lewe. Wat verloste lewens is. Dit is heel anders as wat ons hier met al ons geswoeg kan verwesenlik. Dit is smetteloos. Nou kan ons dit net sien deur ons geloof, en dit stel ons in staat om vol te hou, om met blydskap in ons hart voort te leef, ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap. En as ons almal saam daaroor bly is, dan hou ons hier ook aan mekaar vas, hoe moeilik die huidige omstandighede ookal mag wees.

(Verkorte uittreksel uit: De bedroefde gemeente zich verblijdend in den dag van Christus – Ds Dirk Sikkel).

Kerk = die gemeenskap van gelowiges.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css