Die Weg

 

Blydskap in beproewing (2)

En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus”  - 1 Petrus 1:6-9 NAV.

In die vorige boodskap het ons gelees van die blydskap wat ons in Christus het. Nou kan ons kyk hoe dit verband hou met ons beproewings en ons droefheid. Die blydskap wat ons in Christus het sluit nie beproewings en droefheid uit nie. Maar as ons met blydskap uitsien na die heerlikheid van die Here Jesus Christus se koms, dan kyk ons met hartseer na ons Christelike lewenswyse. Maak nie saak hoe ons dit beskou nie, ons sien maar te dikwels die verwoestende werk van die sonde in ons kerklike lewe. Die duiwel gebruik alles wat moontlik is om ons moedeloos te maak en ons los te maak van die kerk van Jesus Christus. Wie sal nog staande kan bly?

Wat die duiwel egter gebruik as versoekings om ons van God los te maak, dit gebruik die Here as beproewing om ons digter na Hom te trek. Dit is die groot raaisel wat ons nooit kan oplos nie – wat die mense ten kwade bedink, laat God ten goede uitwerk. Vuur kan brand en verteer, maar vuur kan ook louter.

Daar is in die Christelike lewe niks gevaarliker as om in die waan te leef dat alles ewe gemaklik sal gaan nie. Want deur alles heen doen God sy louteringswerk. Soos wat die goudsmid die goud louter sodat dit in suiwere goudglans sal skitter, so louter God ons geloof. Hy hou ons geloof in stand, waardeur ons baie uit ons lewe moet loslaat, maar waardeur ons gedring word om ons hoop op die Here alleen te stel. Ons moet aan Sy beloftes vashou. Wanneer die geloof eers eenmaal gelouter is, dan breek ‘n nuwe lentetyd vir ons aan. As ons baie in die proses moet verloor, dan is dit tog nie ‘n verlies nie, maar ‘n wins. Dan kom die werklike geloof te voorskyn, die beproefde geloof. Dit is kosbaarder as beproefde goud. Beproefde geloof het onverganklike waarde, omdat dit nie toon wie ons is en wat ons kan doen nie, maar omdat die eer en heerlikheid aan God daardeur gebring word.

By die wederkoms van Christus, sal hulle wat ondanks stryd en beproewings hulle skuilplek by die Here gesoek het en aan Sy beloftes vasgehou het, nie beskaamd staan nie. Hulle het in hul droefheid tog aan die blydskap vasgehou. Hulle het hulle beproewings nie lig geag nie, maar hulle het gesien dat dit net van korte duur was (vers 6).

Die beproewings kan nie vergelyk word met die heerlikheid wat kom nie. En ons kan dit dra omdat die Here self deur Sy krag ons staande hou. Omdat hy Sy oog nie een oomblik van ons afwend in die tyd van ons beproewing nie. Omdat Hy op die juiste oomblik die beproewing sal stop.

Op die dag van Christus, in die laaste tyd, op die gloriedag – die dag van heil en loon, sal dit openbaar gemaak word dat die geloof waarlik tot lof en eer en heerlikheid van God is. Dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het – ons geloof.

(Verkorte uittreksel uit: De bedroefde gemeente zich verblijdend in den dag van Christus – Ds Dirk Sikkel).

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css