Die Weg

 

Die lente is hier, die somer kom!

Leer dit van die vyeboom as voorbeeld: wanneer sy takke begin sag word en hy blare kry, weet julle die somer is naby. So moet julle ook wanneer julle al hierdie dinge sien, weet dat die tyd naby is, voor die deur” – Matteus 24:32-33.

Dit is wonderlik en dit is iets waarna ons elke jaar opnuut uitsien. Die winter, wanneer alles hier in die Noorde vaal en dood is, is verby. Die lente vul die lug en daar is nuwe bloei aan die bome en struike. Die boslelies is vol in die blom. Eintlik het die somer hierdie jaar sommer skielik gekom. Ons het ons nog vergaap aan die ongewone sneeu wat hier in Pretoria val, en twee weke later staan die temperatuur op 30 grade! 

Dié wat gereeld die nuus dophou, sal ook weet van ‘n ander lente. Dit is die sogenaamde “Arabiese lente” waarin regerings in die Midde-Ooste tot ‘n val gebring word. Daarby sien ons ook hoe Christene in daardie lande opnuut vervolg word. Hierdie lente sal egter van korte duur wees, en dit sal heelwaarskynlik nie met ‘n somer opgevolg word nie. Sommige kommentators praat van ‘n “Arabiese winter”. Na alles bring dit net groter ellende vir die mense.

In die teks hierbo praat die Bybel ook van ‘n lente, naamlik dié een wat die wederkoms sal voorafgaan. Ons bevind ons nou in hierdie lente (sien die reeks boodskappe: “Wees gereed, die Koning kom!”). Dit is interessant om daarop te let dat die voorbeeld van die vyeboom woordeliks byna dieselfde is in die evangelies van Matteus (24:32-5), Markus (13:28-31) en Lukas (21:29-33): “Net so moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die koninkryk van God naby is” (Luk 21:31).

Die wederkoms sal ‘n ewigdurende somer inlui. Soos wat ons die winter met vernietiging, dood en smart assosieer, so is die somer vir ons die beeld van lewe en vreugde. En watter vreugde en vrede sal ons nie altyd in die teenwoordigheid van ons Here smaak nie! Ons word aangespoor om te juig oor daardie groot dag: “Juig, Sion, wees bly! Ek kom, Ek gaan binne-in jou woon, sê die Here. Daardie dag sal baie nasies hulle aan die Here verbind: hulle sal my volk wees, en Ek sal in jou woon, Sion” (Sag 2:10). Winter en dood sal daar nie meer wees nie: "Tussen die hoofstraat van die stad aan die een kant en die rivier aan die ander kant staan die boom van die lewe. Hy dra twaalf keer per jaar vrugte: elke maand lewer hy sy vrugte. Die blare van die boom bring genesing vir die nasies" (Open 22:2).

Daarom wag ons met ‘n blye vooruitsig op die wederkoms van Christus. Hy kom nie om te verwoes en te vernietig nie, maar Hy bring saam met Hom ewige vrede en sielerus. Die winter met sy ellende en dood, met sy sonde en die worsteling teen doodsvyande, sal dan ewig verby wees.

Is jy gereed vir hierdie somer?

-dw-

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css