Die Weg

 

Kan jy volhou?

"En nou, liewe kinders, julle moet in Hom bly, sodat ons almal niks te vrees sal hê wanneer Hy kom nie en by sy wederkoms nie beskaamd voor Hom sal staan nie" - 1 Johannes 2:28.

In die vorige twee boodskappe was die vraag: “Is jy op jou pos?”. Die vraag nou is: “Kan jy daarmee volhou en sal jy gereed wees wanneer Hy kom?”. As jy in Christus bly, is daar ‘n stryd om te stry. Sal jy met die stryd kan volhou, ook wanneer die druk al hoe groter word? Want dat die druk groter sal word lei geen twyfel nie. Hoe langer hierdie stryd duur, en hoe heftiger hierdie stryd word, hoe meer gaan dit moed en krag verg om daarmee vol te hou.

Ons stryd teen die wêreld  word in die Nuwe Testament telkens met ‘n wedloop vergelyk. Hebreërs 12:1 sê: “laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop”. Ons moet dus nie toelaat dat die wêreld laste op ons lê wat ons sal verhinder om dít te doen waartoe God ons geroep het nie. Ons kan tog nie probeer om aan ‘n wedloop deel te neem as ons ‘n swaar pak op die rug dra nie!

Die analogie van die wedloop gebruik Paulus ook in sy brief aan die Filippense as hy skryf: “Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus” (Fil 3:13-16).

Wanneer Paulus na-aan die einde van sy lewe gekom het, skryf hy sy tweede brief aan Timoteus waarin hy hom aanmoedig om te volhard in die tyd van toenemende afvalligheid. Daar waar hy in die gevangenis sit ter wille van Jesus, kan hy terugkyk op sy lewe en met vrymoedigheid oor sy lewe in Christus skryf: “Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur. Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms” (2 Tim 4:6-8).

Toe Paulus die brief aan die Filippense geskryf het, het hy nog fel in die stryd gestaan. Hy was nog besig met sy geestelike wedloop. Met hierdie tweede brief aan Timoteus, ongeveer 4 jaar later, was die wedloop vir hom verby. Hy kon die stryd enduit volhou, die wedloop wen en die prys behaal. Met watter geweldige troos gaan hy nie sy dood tegemoet nie. Hy weet dat sy stryd op aarde nie tevergeefs was nie.

Laat wat Paulus hier sê ons ook aanvuur om ons stryd onverskrokke, met moed en oortuiging, en met volle vertroue op die verlossende krag van ons Here Jesus Christus te voer. Dan sal ons met blydskap en vreugde ons Here Jesus Christus tegemoet kan gaan. Hy het ons mos daarvoor toegerus, dan nie?

-dw -
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css