Die Weg

 

Hou vas aan die Waarheid (2)

"En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte" - 2 Petrus 1:19 OAV.

Die wêreld is ‘n baie donker plek om in te wees. Die mense is onseker, rigtingloos en vervul met angs. Die sonde lei die mense na ondergang. Wêreldwye terreur, geweld, misdaad, seksuele misdrywe teen vroue en kinders, honger, oorlog, korrupsie, egbreuk, perversiteit en wantroue, waar jy jou ookal mag bevind. Ons leef regtig op ‘n donker plek. Maar Petrus sê: “daar is lig. Die profetiese woord wys ons die weg deur die donker wêreld heen”.

Maar hoe gaan ons met hierdie profetiese woord om?  Veronderstel ons is op pad in ‘n vreemde omgewing en ken nie die weg na ons bestemming nie. Dan kom ons by ‘n rigtingwyser wat vir ons die weg aandui. Wat sal ‘n mens normaalweg doen? ‘n Mens kan natuurlik voor die rigtingwyser gaan staan en twyfel of dit werklik die regte weg aandui, hom van sy paal afhaal en eers wetenskaplik ontleed of al sy dele van die regte tipe materiaal gemaak is en of dit aan die SABS se standaarde voldoen. Maar sal ons op hierdie manier by die eindbestemming van ons reis aankom? Sekerlik nie. So maak baie mense egter met die Bybel, en dan verwonder hulle hul daaroor as hulle in die donker langs die lewenspad bly sit sonder om die weg te vind.

Paulus sê in sy brief aan Timoteus: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk” (2 Tim 3:16). God se Woord is betroubaar en die hele inhoud daarvan is die waarheid (Ps 119:160 en ook 2 Pet 1:19-21). Daarom is hierdie Woord van God so belangrik in ons lewens, want hieruit leer ons die waarheid ken. Ons sal saam met alle gelowiges begryp “hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek” (Ef 3:18).

Ons moet aan hierdie Woord ons volle vertroue skenk en daaraan vashou. Ons moet dit hoor, lees en bestudeer. Dit moet deel word van ons verstand, ons harte en ook ons ganse lewe.

Totdat Jesus Christus, God se lig vir die wêreld, self terugkeer en ons met ons verheerlikte liggame by Hom sal wees, is die Bybel die lig wat God ons op ons lewenspad gee” (Bybel in Praktyk).

Jesus het gesê: "As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak." (Joh 8:31-32). Hoe kan ons aan Jesus se woorde getrou bly as ons nie weet wat dit behels nie? En waar vind ons dit? Daarom: lees en bestudeer die profetiese woord van die Bybel en hou was aan die waarheid sodat jy ‘n vry mens kan wees in ‘n donker wêreld.

-dw- 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css