Die Weg

 

Selfverheerliking is om God te vergeet

"Die Israeliete wat in Jerusalem was, het die fees van die ongesuurde brood met groot vreugde sewe dae lank gevier. Die Leviete en die priesters het elke dag die mag van die Here geloof met begeleiding van musiek, en Hiskia het die Leviete geprys oor die bekwaamheid waarmee hulle dié kuns voor die Here beoefen het. " – 2 Kronieke 30:21-22.

Na jare waartydens die volk hulle weggedraai het van God en vreemde afgode aangehang het, het koning Hiskia die volk weer teruggelei na God. Hy het groot moeite gedoen om die skade wat deur sy voorgangers aangerig is, weer te herstel en die tempel te reinig. Daarna kon die volk weer Pasga vier en terugdink aan dié dag en die wyse waarop die HERE die volk uit Egipte bevry het. Hiskia het besef dat die afgodery van sy voorgangers, en veral sy pa Agas, die volk tot selfvernietiging en ondergang gelei het. 

Die HERE het Hiskia se handewerk geseën: “In alles wat hy onderneem het ter bevordering van die tempeldiens en die gehoorsaamheid aan wet en gebod, het hy met sy hele hart gevra na die wil van sy God, en daarom was hy voorspoedig” (2 Kronieke 31:21). En omdat die volk hulle van hul sondige weë bekeer het, het die HERE hulle uit die hand van die magtige Assiriese ryk gered en die HERE het sy volk aan alle kante beskerm (2 Kronieke 32:22). “Baie mense het vir die Here in Jerusalem offers gebring en kosbare geskenke vir koning Hiskia van Juda, wie se aansien onder die nasies hoog gestyg het ná dié gebeure” (2 Kronieke 32:23). Die HERE het vir Hiskia ook so wonderbaarlik van ‘n ernstige siekte genees (2 Kronieke 32:24) dat selfs die mense in Babel daarvan gehoor het.

Maar, ja daar is altyd ‘n “maar”. Na sy siekte het Hiskia ingenome met homself geraak. Toe gesante vanuit Babel na Hiskia gestuur is om vir Hiskia oor die wondergenesing uit te vra, het hy nie die eer aan die HERE gegee nie.  Hy het die wonderlike geleentheid wat hy gehad het om die magtige dade van die God van Israel voor die heidense gesante te bely,  laat verbygaan. In plaas daarvan het hy in ‘n vlaag van selfverheerliking met sy skatte gespog ( 2 Konings 20:12-19). “Hy het ingenome met homself geword”, so staan dit daar in 2 Kronieke 32:25. Wat ‘n groot verskil is dit nie met die aangehaalde teksverse hierbo uit die eerste jaar van Hiskia se regering nie. As gevolg van Hiskia se ingenomendheid met homself het dit die toorn van die HERE oor homself, oor Juda en oor Jerusalem gebring. Die profeet Jesaja sê vir Hiskia: “Daar kom ‘n tyd dat alles wat in jou paleis is, weggedra sal word na Babel toe, al die skatte wat jou voorvaders en jy versamel het. Daar sal niks oorbly nie, sê die Here. Van jou eie seuns wat uit jou gebore is, sal gevat word, en hulle sal diens doen in die paleis van die koning van Babel" (2 Konings 20:16-18).

Roem en rykdom het al vele mense tot struikeling gebring. Dit is so menslik om die erkenning self op te eis en nie die hand van God in ons voorspoed te erken nie. Die HERE het vir Hiskia getoets (2 Kronieke 32:31)en hoe het hy nie in hierdie toets gefaal nie! “Die toets vir die persoon wat werklik gelowig is, is of hy of sy onder alle omstandighede bely en erken dat ‘n mens nooit sonder die HERE kan lewe nie. In ons gedagtes en ideale moet ons aan alles dink in terme van God se aandeel daarin” (Bybel in Praktyk). 

- dw -

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css