Die Weg

 

Psalm 27(4) - Om God se verlossingsdade te besing

"Want Hy steek my weg in sy hut in die dag van onheil; Hy verberg my in die skuilplek van sy tent; Hy verhef my op ‘n rots. En nou sal my hoof hoog wees bo my vyande rondom my, en ek wil in sy tent offerandes offer saam met trompetgeklank; ek wil sing, ja, psalmsing tot eer van die HERE” – Psalm 27:5-6 OAV.

In Psalm 27:5 sien ons die rede waarom die psalmdigter so begeer na gemeenskap met, en kennis van God, soos ons verlede keer gesien het. Want God is vir ons ‘n skuilplek teen gevaar. 

1) "Want Hy steek my weg in sy hut in die dag van onheil “ - op die dag van onheil, daardie tyd wat ek hulp werklik nodig het, daardie tyd wanneer almal my verlaat en ek op myself aangewese is, sal Hy my in sy huis wegsteek. Wanneer die ergste gevaar dreig, is daar geen beter skuiling as dit nie. Die gelowige word rustig weggesteek, nie deur homself nie, maar deur die Koning wat hom met sy almag beskerm. 

2) “Hy verberg my in die skuilplek van sy tent” (die tent verwys hier na die tabernakel - sien Numeri  17:13 en later die tempel) -  niemand in die ou tyd het dit durf waag om die mees heiligste plek te betree nie, want so ‘n persoon sou onmiddelik sterf.  En as die HERE iemand daar laat skuil, wie sou dit ooit waag om hom daar te kom uithaal?

3) “Hy verhef my op ‘n rots” – die simbool van onaantasbaarheid, ewigheid en oneindige krag. Hoe geseënd is die man vir wie God hoog bo sy vyande op ‘n onaantasbare rots plaas wat nooit bestorm kan word nie! Wat ‘n wonderlike begeerte is dit nie om met die HERE te wandel wat sy volk so doeltreffend beskerm nie!

Daarom kry God die eer vir die verlossing in Psalm 27:6.

1) “En nou sal my hoof hoog wees bo my vyande rondom my” – daarvan is die psalmdigter baie seker. Godsdienstige manne van die ou tyd het in geloof gebid, sonder om te twyfel, en het met volkome sekerheid gepraat van die verhoring van hulle gebede. Dawid was deur die geloof so seker van sy glorieryke oorwinning oor sy vyande, dat hy hom alreeds in sy hart voorgeneem het wat hy sou doen as sy vyande uitgestrek voor hom lê. Sy dankbaarheid teenoor God staan vir hom voorop:

2) “En ek wil in sy tent offerandes offer saam met trompetgeklank” – daardie plek waar hy altyd begeer het om te wees, sal hy met vreugde besoek wanneer hy triomfantlik terugkeer. Hy praat nie van feesvierings in sy eie paleis en banketsale nie, maar hy verkies ‘n heilige vreugde wat pas by die verlossing wat God hom geskenk het. Hy sal vir die HERE vreugdevolle offers in die tempel bring en sing tot eer van die HERE.

3) “Ek wil sing” – dit is die mees natuurlike uitdrukking van dankbaarheid.

4) “Ja, psalmsing tot eer van die HERE” – die eed is by herhaling bevestig en word voltrek met lofsang tot eer van die HERE. Ander mag dalk stilbly, maar die gelowige sal sy lof laat hoor. Laat hulle wat dan die nietighede van die wêreld wil besing, dit maar doen, die gelowige sal sing tot eer van die HERE.

 -Charles H Spurgeon (1834 - 1892)-

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css