Die Weg

 

Wanneer dit lyk of die Here ons verlaat het

‘Simon Petrus sê toe vir hulle: “Ek gaan visvang”’ Johannes 21:2

In hierdie, die laaste hoofstuk van Johannes, word die fokus op Petrus geplaas. Ons sien hier vir Petrus by die see van Tiberias. Tot met Jesus se gevangeneming het die dissipels hulle dae in Sy teenwoordigheid deurgebring. Na Jesus se opstanding het Hy nog net  twee keer aan hulle verskyn. Petrus en vyf ander dissipels sit hier by die see van Tiberias, ontredderd. Die lewe waaraan hulle gewoond geraak het, het drasties verander. Hulle weet nie regtig wat vorentoe moet gebeur nie.

Petrus het natuurlik ook sy eie vertwyfelings gehad. Nie lank gelede nie het hy ontken dat hy ‘n volgeling van Jesus was. Selfs drie keer. Hy wat met Jesus se gevangeneming so voortvarend was om ‘n wag se oor af te kap, vir hom is die lewe “‘n wat nou?”!

Voordat Petrus vir Jesus ontmoet het, was hy ‘n visser. Nou sit hy weer hier by die bekende plek uit sy verlede. Was alles só verniet? Was hierdie drie jaar maar net ‘n verposing wat tragies geëindig het? Daarom besluit hy: “ek gaan visvang”. Dis nie sommer vir sy plesier nie, maar ‘n terugkeer na ‘n vorige bestaan.

As hy dan gaan visvang is daar vir hom meer rede om moedeloos te raak. Hulle probeer die hele nag en tog beland daar nie ‘n enkele vis in die net nie.

Maar alhoewel Petrus in vertwyfeling verval het, was die Here nog steeds aanwesig. Hy het ‘n plan met Petrus se lewe. Het Hy dan nie in die verlede gesê: "Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie"?(Mat 16:8). Het Petrus dít vergeet, of trek hy alles wat die Here aan hom gesê het in twyfel?

Die Here gaan nooit terug op Sy woord nie. Daarom is die mislukte visvangs ook uit die hand van die Here. Dan, ná die nag, wanneer die dag breek, vertoon die Here Jesus homself. Hy voorsien die vis. Toe besef Petrus skielik dat dit die Here is en hy spring oorboord, want hy was naak. Dit is nie net ‘n fisiese naaktheid nie, maar ook ‘n geestelike naaktheid. Dit is ‘n skaamte omdat hy Jesus uit sy gedagtes geplaas het.

Ons sien hier hoe Jesus weer in Petrus se lewe ingryp.  Drie maal het Petrus vir Jesus verloon, drie maal vra Jesus vir Petrus of hy Hom liefhet.  Petrus het bedroef geword, want hy het besef dat die Here sy diepste gedagtes geken het.  Na hierdie ingreep van die Here Jesus sou Petrus se lewe nooit weer dieselfde wees nie.  Hy sou nooit weer na die viswaters terugkeer nie.

Daar kom ‘n tyd in elkeen van ons se lewens wanneer ons ons in Petrus se posisie bevind.  Maar wanneer die twyfel in ons harte posvat moet ons weet die Here is naby. Hy ken ons gedagtes. Het ons ons Verlosser vergeet? Hy sal ons nie los nie. Om weg te loop en ons eie dinge te wil doen is nie ‘n antwoord nie. Om na ons ou lewe terug te keer bring ons niks verder nie. Om ook in medelye met onsself te verval bring niks voort nie. 

Die Here het ook ‘n plan met ons lewens, dalk nie so dramaties as in Petrus se geval nie. Maar ons is almal lede van die liggaam van Christus (1 Kor 12:27), ons het elkeen ‘n doel in die lewe, en as Christus ons eers gegryp het, sal Hy ons nooit los nie.

-dw-

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css