Die Weg

 

Om nie in 'n vangnet te beland nie

My oë is altyd op die Here gerig, want dit is Hy wat my voete uit die vangnet sal hou”. Psalm 25:15.

Ons lewe is dikwels soos dié van ‘n wildsbok in ‘n bos waar wilddiewe optree. Die vangnette is so listig gestel. Die bokkie loop en wei nog onskuldig, maar skielik ruk die vangnet op tussen die blare en die bokkie is van sy vryheid beroof!

Pasop om nie soos ‘n wildsbok gevang te word nie! Ons moet soos die Psalmdigter met oop oë deur die lewe gaan. Moenie in ‘n gekkeparadys leef nie. Daar is vyande, daar is geslepe persone, daar is bose magte, wat jou van jou vryheid wil beroof. Daarom word die duiwel ‘n slang genoem, listig en gewetenloos. Trap versigtig met jou voete!

Psalm 25 is ‘n eerlike gebed van iemand wat weet van die gevare op sy lewenspad. Hy besef dat hy sonder die Here nooit veilig anderkant sal uitkom nie. Hy bid: “Ek verkeer in die allergrootste nood” (v17), “Dit gaan sleg met my, ek kry swaar, ek het baie vyande” (vv18-19). Hy is ook bewus van sy eie swakhede en sondes, ja, van sy jong dae af (v7).

Te midde van al die gevare, wat soos ‘n vangnet gespan word, is daar een persoon wat hom kan bewaar. Verskeie male lees ons in die Psalm dat God getrou is, en dat hy op Hom vertrou. Hy is die Here (Jahwe), die God van die verbond. Hy span nie vangnette nie, maar Hy wys die regte pad aan – selfs vir sondaars (v8). Hy bedrieg nie, maar Hy is goed en regverdig en laat reg geskied aan hulpeloses (vv8-9). In sy Seun, Jesus, het Hy sy verbond na alle volke uitgebrei. Sy liefde as Herder en Verlosser is bekend gemaak. Glo in Hom! Jy is vry gemaak, verlos, gekoop met die kosbare bloed van Christus.

Met al dié sekerhede oor die Here se getrouheid kry een saak voorkeur in jou lewe. Hou jou oë op die Here gerig. Fokus op Hom, wat die Leidsman na die lewe is. Volg Hom op die pad van vreugde en sekerheid. Luister na sy wysheid. Bou op die rots van sy Woord. Versterk jou verhouding met Hom.

Wie sy oë op die Here hou, se voete sal nie in die vangnet vasgevang word nie.

Dr Callie Opperman  (Deo Gloria Kuberbrief)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css