Die Weg

 

Geloof en offer

Omdat Abel geglo het, het hy ‘n beter offer aan God gebring as Kain. Vanweë Abel se geloof het hy van God bevestiging ontvang dat hy ‘n opregte man is, want God het sy offers aangeneem; en deur dieselfde geloof spreek hy nou nog, al is hy reeds dood”. Hebreërs 11:4

Ons praat soms so gou en so maklik oor “offer”. Ons praat selfs van 'n “offergawe” as ons ‘n bydrae vir die kerk maak. Maar wanneer dit om onsself gaan, gee ons op ‘n keer dalk tien keer meer soveel uit vir ons eie plesier. Offer is nie iets gee, iets afstaan van wat ons ons eie noem nie. Offer is onsself gee, onsself op die altaar lê, ons geheel en al en sonder voorbehoud aan God toewy.

Geloof en offer is sinoniem aan mekaar.  Albei beteken dat ons nie meer vir onsself leef nie, maar vir God. Deur die geloof het Abel geoffer (Hebr. 11:4 en Gen. 4). Kain het ook by 'n altaar gestaan. Wat was die verskil tussen die twee offerandes? Het die kenmerkende verskil miskien in die offergawe gelê? Of het dit daarin gelê dat Abel sorgvuldig die beste vir die Here uitgesoek het, terwyl Kain sommer voor die voet uit sy oorvloed geneem en dit op die altaar gelê het? Hierdie verskil was seker van betekenis. Maar dit was slegs die simptoom, die aanduiding van 'n groot verskil in innerlike gesteldheid by die twee broers. Kain het iets van wat syne was, aan God afgestaan. Byna noodgedwonge. Hy wou slegs die bestaande gebruike van sy ouerhuis en omgewing nakom. As hy sy aansien wou behou, kon hy nie juis iets anders doen nie. Maar toe Abel sy offerdier op die altaar neergelê het, was dit vir hom of hy homself daar neeriê. Hy het homself as offer aan God aangebied. Sy eie lewe. Sy eie hart.

Alleen die geloof kan so 'n offer bring. Ons kan dit slegs bring as ons vas oortuig is dat ons heeltemal aan God behoort, dat God die reg op ons hele lewe het. Die reg op ons liggaam, op ons verstand, op ons krag, op ons bekwaamheid. Dis nie genoeg om net iets aan God te gee nie - selfs nie om baie te gee nie.

Ons sien hierdie geloofsoffervaardigheid by Paulus wanneer hy in die gevangenis verkeer. In sy brief aan die Filippense skryf hy: "Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het. Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike wag en al die ander nou besef dat dit ter wille van Christus is dat ek ‘n gevangene is. Deur my boeie is die meeste broers ook in hulle vertroue op die Here gesterk,..” (Fil 1:12-14).

Wie uit die geloof leef, weet: ek behoort geheel en al aan God. Ek is God se eiendom. Gekoop en betaal teen die duurste prys. Daarom mag Hy oor my beskik!

(Dr FE Hoekstra in Dagfinale - bygewerk)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css