Die Weg

 

Roep Hom aan en Hy sal uitred

"En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word" (Joël 2:32 en Hand 2:21).

Waarom roep ek nie Sy Naam aan nie? Waarom hardloop ek van die een mens na die ander om hulp, dít terwyl God só naby is dat Hy my flouste hulpgeroep kan hoor? Waarom sit ek, dink skemas uit en beraam allerlei planne? Waarom gee ek nie myself en my las aan die Here oor nie?

‘n Naelloper hardloop reguit vooruit - waarom hardloop ek nie reguit na die lewende God nie? Tevergeefs soek ek na hulp op ‘n ander plek; maar by God sal ek dit vind, want ek het Sy gewaarborge “sal” wat dit bevestig.

Ek hoef nie te vra of ek Hom mag aanroep nie, want die woord “elkeen” is wyd en sluit almal in. “Elkeen” verwys na my, want dit beteken enigeen en elkeen wat die Here aanroep.  Ek sal hierdie woord volg en dadelik die glorieryke God aanroep wat só ‘n ruim belofte gemaak het.

My geval is ernstig, en ek kan nie sien hoe ek bevryding kan ontvang nie; maar dit is nie ‘n saak vir my nie. Hy wat dié belofte gemaak het, sal ook die middele daartoe verskaf. Ek moet net Sy bevele gehoorsaam. Dit is nie vir my om Sy raadsplan te bestuur nie. Ek is Sy dienskneg en nie Sy raadgewer nie. Ek roep Hom aan en Hy sal uitred.

C H Spurgeon (19 Junie 1834 – 31 Januarie 1892).

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css