Die Weg

 

God se Dienaar - tot verbasing van die mensdom

"My dienaar sal voorspoedig wees. Hy sal hoog in aansien wees, hy sal baie eer ontvang. Baie mense was ontsteld oor hom, hy was só misvormd dat hy nie meer soos ’n mens gelyk het nie, nie meer die voorkoms van ’n mens gehad het nie. Maar hy gaan baie nasies laat opspring van verbasing. Konings sal sprakeloos wees oor hom, want hulle sal iets sien wat nie aan hulle vertel is nie, hulle sal iets te wete kom wat hulle nog nooit gehoor het nie" Jesaja 52:13–15 NAV.

Die helde op wie ons hoop vir redding, moet aantreklik wees, gesond en gespierd. Dit gee groter verwagting vir sukses. God gee sy uitkoms egter deur ‘n misvormde persoon, oor wie die mensdom sprakeloos van verbasing was. Toe die volk van God, Israel, op hulle knieë was, sonder hoop en selfrespek, het Hy ‘n dienaar gekies. Hy sou in die geskiedenis bekend word as die Dienaar, dié Verlosser. 

Voorspoedig - suksesvol
Die verlossingsplan wat God uitgewerk het, is gewaarborg. Daar is geen twyfel oor die sukses daarvan nie. Daarom kon Hy met gesag aankondig: "My dienaar sal voorspoedig wees. Hy sal hoog in aansien wees, hy sal baie eer ontvang" (Jes 52:13). In die oorspronklike Hebreeus word die aankondiging met “KYK” ingelui. Sien raak wat God doen. Die belangrikste gebeurtenis in die wêreldgeskiedenis. Moenie twyfel nie, My Dienaar sal sy opdrag voorspoedig uitvoer. Die mensdom sal na Hom opsien en sy Naam roem!

Glad nie soos mense verwag het nie
Dit is byna ‘n antiklimaks wanneer die Dienaar aan ons voorgestel word. Nie iemand wat in die oog val vanweë sy aantreklikheid nie. Nee, hy was misvormd en het nie meer soos ‘n mens gelyk nie! Die nasies en konings reageer met verbasing en staan sprakeloos (Jes 52:14,15). Nie net sy voorkoms nie, maar ook sy bereidheid om vernedering deur te gaan, was onverwags. Niemand onder die heersers van die aarde ken so iets of iemand nie. Om so klein en misvormd te begin, maar dan in heerlikheid te eindig?

Waarom so ‘n Verlosser?
Ter wille van stukkende mense, misvormd deur die sonde, het Hy mens geword. Sy pad van vernedering was die pad na jou oorwinning. Dit is die enigste pad na verlossing. Nie in hoogmoed en selfvoldaanheid nie. Besef jou hulpeloosheid, erken jou misvormdheid deur die sonde. Daar in jou stukkendheid sal jy die Dienaar ontmoet, wat bereid was om deur vernedering heen ons Verlosser te word.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css