Die Weg

 

Tussen lig en duisternis

"Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis" Genesis 1:4.

Lig is goed en het ontspring uit die skeppingsdaad van God: “Laat daar lig wees”. Lig is lewe en ons moet meer van God daarin en daardeur sien. Maar meer waardevol as die fisiese lig wat ons kan geniet, is die lig van die evangelie, want dit vertoon aan ons die dinge van die ewigheid, en spreek tot ons onsterflike natuur. Die Heilige Gees gee vir ons die geestelike lig wat ons oë open om die heerlikheid van God deur Jesus Christus te aanskou. Dit laat ons die sonde in sy ware kleure sien, en laat ons onself sien soos ons werklik is. Dit laat ons die Heilige God sien soos Hy Homself aan ons openbaar, die plan van genade soos Hy dit aanbied, en die komende wêreld soos dit in die Woord beskryf word. Geestelike lig het meer strale en meer prismatiese kleure, waaronder: kennis, vreugde, heiligheid en ‘n lewe in Christus. Alles hiervan is goddelik goed. As die lig wat ons ontvang so goed is, hoe moet die ontoeganklike lig (1 Tim 6:16) wees en hoe glansryk moet die plek wees waar Hy homself vertoon!

Ons vind in hierdie wêreld dat sodra iets goeds te voorskyn kom, daar noodwending teenstand daarteen sal wees. Lig en duisternis het geen gemeenskap met mekaar nie. God het skeiding gemaak tussen lig en duisternis. Laat ons dit nie teengaan nie. Kinders van die lig mag nie omgang hê met die dade, leerstellings of misleidings van die duisternis nie. Kinders van die dag moet sober wees, en eerlik en moedig wees in die werk vir hulle HERE. Die werke van die duisternis moet oorgelaat word aan hulle wat vir ewig daarin sal woon. Die plig van die Kerk is om skeiding te tref tussen lig en duisternis. Ons moet dieselfde onderskeid tref in ons interaksie met die wêreld. Ons moet onderskeid tref tussen wat goed is (waardevol) en wat sleg is: in ons besluite, in ons optredes, in dit wat ons hoor, in dit wat ons vir ander leer en in ons verbintenisse. Ons moet volhou met die groot skeiding wat die HERE op die eerste dag getref het.

O HERE, omdat U lig so goed is, gee vir ons meer daarvan en laat ons meer bewus word van Uself, die werklike lig.

C H Spurgeon

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css