Die Weg

 

Bruilof(slot) - Die wat gereed was

(Lees asb die voorafgaande 4 boodskappe om die volle konteks hiervan te verstaan)

“En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof” - Mattheus25:10 (OAV).

Dit is die heerlike hoogtepunt van hierdie gelykenis: dat hulle wat gereed was, ingegaan het. Dit is die magtige oomblik waarop hulle al singende en feestelik getooi, die koninklike hof vir die bruilof betree.

Dit herinner ‘n mens aan Openbaring 7:13: “Hulle wat bekleed is met die wit klere, wie is hulle en waarvandaan het hulle gekom?”. Ons teks sê dit is hulle wat gereed was. Dit het duidelik betrekking op die lampe. “Toe staan al die maagde op en maak hulle lampe gereed,” staan daar in vers 7. Nou ja, hulle wat gereed was toe Hy uiteindelik gekom en in al die heerlikheid van sy feesgewaad voor hulle gestaan het; hulle wat vir die fees gereed was met brandende harte waarin die liefde vir hul Heiland opgevlam het - hulle het saam met Hom die bruilofsaal binnegegaan.

So word die woord “gereed” swaar van verantwoordelikheid. God moet nie gereed wees nie - jy moet gereed wees. Daarvoor moet jy instaan. Nie net moet jy die olie van ware geloof in jou lewenslamp hê nie, maar die ware geloof moet ook opvlam en in liefdesdade brand.  Bring dit maar gerus in verband met die slot van die hoofstuk. Wat Jesus daar sê oor “te ete gegee” en “te drinke gegee” en oor besoeke aan die siekes en gevangenes, is wat Jesus onder 'n brandende lamp verstaan - 'n lewe wat uit 'n waaragtige geloof homself in liefde uitbrand.

Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind” (Mat 24:46). Kyk, hierdie mens is gereed. En nou is daar seker groot en klein lampe. Die Here let nie op sulke dinge nie. Hy het hulle almal ewe lief. Die Here kyk na : brandende lampe. Diegene wat so 'n lamp het, gaan saam met Hom die bruilofsaal binne.

Verwerk uit: De Stem Achter U van ds Gabe van Duinen

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css