Die Weg

 

God se liefde verseker jou weg vir jou

"Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie" - Romeine 8:28-39 OAV.

Gelowige, staan ‘n bietjie stil en kyk terug op jou lewenspad. Laat jou gedagtes teruggaan na al die ondervindinge wat jy al in jou lewe deurgemaak het. Dink daaraan hoe God jou deur jou eie (spreekwoordelike) woestyn gelei het: hoe Hy jou elke dag gevoed en geklee het, nieteenstaande die feit dat jy Hom herhaaldelik uit jou gedagtes geweer het; hoe Hy jou murmureringe moes verduur in jou verlange na die vleispotte van Egipte; hoe Hy jou van water voorsien het toe jy dors was, en met manna uit die hemel gevoed het toe jy honger was. Dink daaraan hoe Hy met Sy genade jou deur al jou moeilike omstandighede bygestaan het; hoe Sy bloed jou van al jou sondes bevry het; hoe Hy jou vertroos het.

As jy dan teruggekyk het op die liefde wat die HERE in die verlede aan jou betuig het, draai om en kyk in die geloof vorentoe. Dink aan die Verbond wat met Christus se bloed verseël is. Hy wat jou nog altyd liefgehad en vergewe het, sal nooit ophou om jou lief te hê en te vergewe nie. Hy is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste. (Open 22:13).

Wanneer jy dan vorentoe ook eendag die vallei van doodskadu gaan betree, onthou dan dat jy geen onheil hoef te vrees nie, want Hy is met jou. As jy jou voete moet plaas in die koue water van die rivier wat skeiding maak tussen die tydelike en die ewige, hoef jy ook nie te vrees nie, want die dood kan jou nie skei van Sy liefde nie. Moenie begin bewe as die onbekendheid van die ewigheid skielik voor jou opdoem nie: "Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie" (Rom 8:28-39 OAV).

As ons dan terugkyk en vorentoe dink oor die liefde van God wat daar in Christus Jesus vir ons is, sal ons dan nie uit liefde vir Hom volkome op Hom vertrou en ons toekoms in Sy hande plaas nie?

C H Spurgeon

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css