Die Weg

 

Die felste oorlog

‘n Oorlog waarvan die uitslag die toekoms van die wêreld bepaal.

Daar het toe oorlog gekom in die hemel: Migael en sy engele moes oorlog voer teen die draak. Die draak en sy engele het oorlog gevoer, maar hulle is verslaan” - Openbaring 12:7-8.

Oorlog en oorlog. Mense voer oorlog, maar ook engele. In die wêreldgeskiedenis loop die paaie oormekaar.

Sedert die tweede wêreldoorlog was daar nog nie weer ‘n verklaarde oorlog waarin soveel lande betrokke was nie. Tog kom niks tot rus nie. Namibië se geskiedenis van die afgelope +-50 jaar was ook gekenmerk deur ‘n lang grensoorlog. ‘n Bevrydingstryd vir sommige, ‘n terroristeoorlog in die oë van ander.

Die 4de Mei is op Namibië se nasionale kalender “Cassingadag”. Dit dateer uit die grensoorlog toe ‘n veldslag by die dorp Cassinga in Angola plaasgevind het. Die dag word verskillend onthou – hang af aan wie se kant jy geveg het. En tog het daar vrede gekom, ten spyte van Cassinga. Mense wat vroeër aan verskillende kante geveg het, werk tans saam, aanbid saam, droom saam van ‘n beter toekoms.

Die tema van vandag, nl: “’n Oorlog waarvan die uitslag die toekoms van die wêreld bepaal”, pas nie by die uitslag van die geveg by Cassinga, of soortgelykes, nie. Al was dit hoe belangrik, al het dit hoe seergemaak, al was individue en regerings daarby betrokke.

... In Openbaring 12 lees ons egter van ‘n ander oorlog. ‘n Geestelike oorlog: Migael, leërowerste oor engele in diens van God, teen die draak (duiwel) en sy engele. ‘n Eeue oue  stryd, tog was daardie oorlog van groot belang. Op God se kalender, waarin Christene insig het, ‘n belangrike onthoudag. Aan watter kant van ‘n bepaalde stryd op aarde jy jou bevind, die uitslag van daardie oorlog raak jou direk.

Daardie engele-oorlog was ná die hemelvaart van Jesus, +- 2000 jaar gelede. Ja, God se kalender bepaal ons jaartellings en ons toekoms. Jesus het as oorwinnaar na die hemel opgevaar, nadat Hy die duiwel en sy magte ‘n nekslag toegedien het. Die oorlog in die hemel is deur die draak en sy engele verloor. Hy word uitgewerp – finaal. Hy sal nooit weer as aanklaer voor die troon van God kan kom nie (Op 12:10). Daar was vreugde in die hemel – vreugde wat ons op aarde deel. Tog bring dit ellende vir die aardbewoners. Die duiwel weet dat hy min tyd het. God bepaal sy tyd. Hy veg onder die mense soos ‘n gewonde leeu en verslind waar hy kan. Hy kan die kind van God egter nooit in sy mag kry nie. Hy sal nie as oorwinnaar uit die stryd tree nie. Daardie finale uitslag is reeds bepaal. 

Te midde van baie oorloë in die wêreld, monumente en grafstene ter herinnering aan veldslae, kan gelowiges die woorde van Openbaring 12:10 in hulle harte bewaar en teenoor andere getuig: “Nou het ons God die redding gebring, nou is sy mag en koningskap hier, en die gesag van sy Gesalfde! Die aanklaer van ons medegelowiges is uit die hemel uit gegooi, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het.” En ons kan vir mekaar bid, om staande te kan bly teen die draak wat min tyd het. Daarvoor gee God die wapentuig (Ef 6:10-20).

Dr Callie Opperman, Windhoek (Deo Gloria Kuberbrief)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css