Die Weg

 

Nie alles wat plesier gee, het blywende waarde nie

Ek het by myself gedink: laat ek my oorgee aan plesier, laat ek die lewe geniet! Maar ook dit het niks opgelewer nie” - Prediker 2:1.

So dikwels beleef ‘n mens dat ‘n vrolike byeenkoms net vir daardie kort tydjie waarde het. Of dit Kersfees met geskenke was of die uitspattige viering van die koms van Nuwe Jaar.

Die Prediker ondersoek ‘n baie belangrike saak, vandag nog net so aktueel: BIED PLESIER WERKLIK SO BAIE AS WAT DIT VOORGEE? (Lees Prediker 2:1-11). Terwyl hy sy wysheid behou en nie sy hele lewe oorgee aan die dinge wat ondersoek word nie, meet hy die waarde van daardie dinge wat soveel aandag in mense se lewens kry. Daardie dinge waarna ‘n mens so smag, wat soms die eintlike doel van jou bestaan word, waarop jy fokus as die heel beste wat die lewe kan bied. Hy skryf: “Ek het gewonder wat sal gebeur as ek my aan wyn oorgee maar tog nog op soek bly na wysheid, as ek soos ’n dwaas leef totdat ek vasgestel het wat die beste is waarmee ’n mens hom sy lewe lank in hierdie wêreld besig kan hou.” (Pred 2:3).

Behalwe vir die gebruik van alkohol om die lewe op te vrolik, is die tipiese groot ondernemings om die lewe te kan geniet aangepak: lieflike huise, wingerde, groot tuine en parke, besproeiingstelsels, en baie mense wat vir hom kon werk. Verder is rykdom opgegaar, sangers en sangeresse, asook mooi meisies, gewerf. Hy kon later met groot tevredenheid sê: “Alles waarmee ek my besig gehou het, het my plesier verskaf. Dit was my beloning vir al my inspanning.” (Pred 2:10).

Is dit nie die pad wat ons gemeenskap loop nie? Jou tyd, kragte en beplanning word meestal daaraan bestee. Sommige kry dit reg en word as die “geseëndes” beskou – hulle het mos alles wat ‘n mens se hart begeer. Andere is jaloers op hulle, of smag daarna om eendag ook so ‘n huis of motor of leefstyl te kan hê. Dit lyk dan of dit die heel grootste beloning vir al jou harde werk kan wees! Maar is dit? Is dit al waaroor die lewe gaan? Bied dit werklik soveel dat ons net daarvoor moet leef? Nee! Dit het die Prediker reeds bevind: “Dit was ‘n gejaag na wind” (Pred 2:11). As jy alles verkry het wat plesier kan gee, is daar nog ‘n groot leegheid in jou lewe. Jou siel is leeg, want jy het materiële genietinge wat slegs tydelike waarde het.

DAAR IS MEER AAN DIE LEWE! Daar is dieper waardes. Streef daarna! Wees werklik ‘n wyse mens. Onthou: “Die wêreldse dinge—alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit—kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.” (1 Joh 2:16-17).

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css