Die Weg

 

En die duisternis het dit nie begryp nie (3)

In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense....  Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld. Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie. Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.” – Johannes 1:4-11 OAV.

In die voorafgaande twee boodskappe het ons gesien dat Christus die Lig is vir die wêreld. Hy is die Woord van God waardeur alles geskep is. Maar Hy skenk ons ook die geestelike lig sodat ons kan begryp wat God van ons verlang en deur Hom gered kan word.

Maar daar is ‘n blokkade. God het die mens die lig geskenk deur Jesus Christus. Johannes sê: “en die wêreld het Hom nie geken nie. Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie”.  Daarvan sê Jesus: “En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos” (Joh 3:19 OAV). 

Die uitdrukking “duisternis” staan vir onreinheid, vir sonde, vir ongeloof.  En daarop is die gevalle mens hopeloos verlief. Sy natuurlike neiging is die Bose. Paulus skryf:  “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word” (1 Kor 2:14 OAV), en verder: “wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” ( 2 Tes 2:12).

Kom ons kyk ‘n bietjie om ons rond. Die maklikste is om in ons sitkamer te begin. Dan vind ons die ironie: so pas het miljoene mense die nuus gekyk waarin daar berig is oor korrupsie, opstande, oorlog, moord en verkragting. Almal is ontstel oor die geweld, die brutaliteit van opstandelinge, terroriste, kindermolesteerders, vroueverkragters.... Maar dan is die skokkende nuus verby, en sien ons ‘n voorskou van films met moord, ontug, korrupsie en egbrekery. Is dit nie abnormaal nie?  So pas het ons gehuil oor die Bose in die wêreld en 5 minute later maak ons dit tot ons aandvermaak!  Vra ‘n mens die TV –stasies waarom hulle sulke bloedige en ordinêre films vertoon, dan is die standaard antwoord: “Ons saai uit wat die kykers verlang”. En wat verlang hulle? Duisternis, oortredings, die prikkelinge van die Bose. Hulle het lus vir die sonde, alhoewel hulle weet dat dit na die verderf lei.  Hulle is deur Christus verlig en het duidelike oordeel oor die ellende wat sonde meebring, maar hulle begryp en verstaan dit nie.  Hulle is soos dwelmverslaafdes. Hulle weet dat dit gif is wat tot die dood lei, maar hulle smag na die bedwelming. Hulle kan nie uit hulle innerlike sondige gevangenisskap ontsnap nie. Die Bybel noem dit die verdorwenheid van die gevalle mens. Die lig skyn in hulle duisternis, maar hulle verstaan dit nie en gryp dit nie aan nie.

Die boodskap is duidelik: ons is hopeloos verlore. Solank ons slawe is van ons ou, sondige natuur sal ons die duisternis meer liefhê as die lig.  Daar moet eers ‘n wonder plaasvind om ons uit die slawerny van die duisternis te verlos. Johannes sê in die volgende verse wie hiervan verlos is. Dit is dié wat Christus aanneem en in Hom glo: “wat nie uit ...... die wil van die vlees nie ...... maar uit God gebore is” (Joh 1:13 OAV).  Dit beteken ‘n nuwe geboorte deur die Gees om die lig meer lief te hê as die duisternis. Wil jy hierdie nuwe geboorte ontvang, wil jy ‘n lewe uit God hê? Wil jy die lig aanneem en die duisternis van Godverlatenheid verlaat? .... Glo dan, en lewe. In Jesus se naam. Amen.

Verwerk uit:“Und die Finsternis hat’s nicht begriffen” – ds Wolfgang Wegert

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css