Die Weg

 

Die ontnugtering van eiewilligheid

Nie lank daarna nie het die jongste seun alles tot geld gemaak en van die ouerhuis af na ‘n ver land toe vertrek. Daar het hy sy geld verkwis deur losbandig te lewe...... Hy het toe sommer by een van die mense van daardie land gaan bly, en dié het hom na sy plaas toe gestuur om varke op te pas. Daar het hy gewens hy kon sy honger stil met die peule wat die varke eet, maar niemand het hom daarvan gegee nie." – Lukas 15:13-16.

Dit is nie te sê dat as jy ‘n kind van God is, jy nie soms jou eie weg sal wil inslaan en dan wegdwaal van God af nie. Dit is maar inherent aan die menslike natuur. God bring egter weer Sy kinders terug na Hom toe, al is dit langs die weg van vernedering en beproewing. Jesus dui dit vir ons aan met die gelykenis van die verlore seun.

Jakob moes as gevolg van sy eiewilligheid en die weg wat hy vir homself gekies het, uit sy land wegvlug. Maar dan lees ons hoe God Hom later aan Jakob openbaar en hy sy lewe verander. Moses moes as gevolg van sy voortvarendheid uit Egipte vlug. Die HERE het hom later teruggelei na Egipte sodat hy diensbaar kon wees vir Hom. Jona het probeer om vanaf God weg te vlug omdat hy nie sy goddelike opdrag wou uitvoer nie: “Maar Jona het hom klaargemaak om na Tarsis te vlug, van die aangesig van die HERE af weg” (Jona 1:3). Maar dan bring die HERE hom deur teëspoed tot ander insigte. Die volk van Juda moes in ballingskap gaan omdat hulle hul rug op God gekeer het, nogtans het die HERE hulle weer na 70 jaar deur baie smart en ellende heen, teruggebring na Jerusalem. ..... Petrus moes vernedering verdra toe hy Jesus verloën het. 

Ware vrede kan ‘n mens net deur Christus en in die diensbaarheid aan God kry. As ons ons rug op God keer, en in die “ver land” gaan rondswerf, verbeur ons hierdie vrede. Ons moet soos ‘n slaaf arbei waarin die ware vreugde van die arbeidstaak dikwels ontbreek. Ons is voortdurend in ‘n worstelstryd ter wille van die stoflike gewikkel, in plaas daarvan om ons in die geestelike dinge van die Vaderhuis te verlustig. Hierdie wortstelstryd wat onvrede in ons harte bring, is die loon van ons eiewilligheid.  Maar ons hemelse Vader sal nie toelaat dat Sy kinders verlore gaan nie, daarom bring Hy teëspoed en pyn oor ons lewenspad. Die brief aan die Hebreërs sê: "My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet... Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ‘n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God ( Heb 12: 5-11). Dan kom ons tot die ontnugtering dat ons die wind najaag, en keer ons terug na God. Selfs ons stoflike arbeid, waarmee ons tot ons sterfte uur noodwendig besig moet wees, word dan gewillig vir hoër diens aan die Here beskikbaar gestel.

Besef jy ook dat jou daaglikse lewensstryd die gevolg is van die sonde wat in die wêreld ingekom het? Jy kan dit vir jouself natuurlik makliker maak deur jou aardse plig met volle toewyding te doen, maar in die besef van jou afhanklikheid van God. Soek Sy aangesig en laat Sy Woord met jou spreek.  Verbind jou daaglikse arbeid met jou roeping om te midde van alles kind van God te wees. Wees gehoorsaam om die lig van Christus in jou daaglikse lewe te laat skyn  en verkondig daardeur die vrede van Christus aan die wêreld.

-dw-    (Met aanhaling van ds HC de Wet)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css