Die Weg

 

Skipbreuk van die geloof (4)

Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely” – 1 Timoteus 1:19 OAV.

Paulus hou aan Timoteus (en aan alle gelowiges) die skipbreuk van die geloof voor as waarskuwing. 'n Gestrande skip is ‘n waarskuwingsteken vir dié wat nog vaar.

Die geloof kán dus skipbreuk ly. Jy mag die waarskuwing van Paulus nie in die wind slaan deur te dink dat dit net skyngelowiges  kan oorkom nie. Dit handel hier juis oor werklike gelowiges. 'n Skyn- of namaak-geloof is as sodanig reeds gestrand.  Paulus se vermaning is gerig aan mense soos Timoteus, mense wat die saligmakende en opregte geloof besit. Daardie mense se geloof kán skipbreuk ly. Dit het inderdaad met sommige gebeur, soos Paulus hier sê.

Ons sien ook vandag dat by sommige ware Christene die sondemag só sterk geword het, dat hulle van hulle kant af die band met God heeltemal deurgesny het. Hulle het hulle ankers met God verbreek en het koud teenoor God geword. Hulle bid nie meer nie, lees nie meer die Bybel nie, en hulle onttrek hul uit die gemeenskap van die gelowiges, nl die kerk. “Ek neem nie meer aan hierdie dinge deel nie" - dit is die “sommige" wat so praat. Maar hierdie sommige is baie. 'n Mens staan verbaas as jy in jou werkplek hoor hoeveel vroeër wel aan hierdie dinge deelgeneem het, maar daarvan afstand gedoen het.  Mense wat van huis-uit Christelik opgevoed, gedoop, ja, selfs die belydenis afgelê het — en by wie die geloof reeds skipbreuk gely het.

En benewens hulle, is daar die talle wat in volle vaart op 'n skipbreuk afstuur. Laat jou oë maar oor die vloot van die Christen-gemeenskap dwaal. Hoeveel skepe van die geloof het hulle nie aan die geloofsvaart onttrek nie! Hulle het lekkasies opgedoen. Sekerlik, hulle hou nog die pompe aan die gang, maar hulle is besig om stadig maar seker in die golwe weg te sink. Die draaikolke van die ongeregtigheid suig hulle ondertoe, of hulle dryf vinnig nader aan die rotse van volslae verwêreldliking. Skipbreuk is onvermydelik!

Naas God is iedereen skipper van sy eie skip. Verantwoordelik vir skip en lading. “Skipper, hoe is dinge op jou skip? Alles wel aan boord?"

Verwerk uit “De Stem achter U” deur Ds Gabe van Duinen.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css