Die Weg

 

Wees vandag `n doener!

"Harde werk bring beloning; om net te praat, bring gebrek"  - Spreuke 14:23.

Ons leef in 'n tyd van baie werkswinkels, seminare, ontbyte saam met geleerde sprekers en motiveerders. Ons mense drink die mooi woorde in, maar wat gebeur na die baie gepraat (of geluister)? Dit het geen loon as dit net by woorde bly nie!

Net so in ons geestelike lewe. Ons hoor baie preke en mooi geestelike praatjies, luister na CD’s en kyk DVD’s met Bybelstudies en boodskappe. Maar gaan daardie luister oor na dade? “’n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood” (Jak 2:26). 

* Ons geloof moet dus ook in dade oorgaan.
* Ons belofte van liefdesdiens moet oorgaan in liefdesdade.
* Ons gebedsvoornemens moet oorgaan na dienswerk in God se Koninkryk.

Praters is meestal baie, en ook nodig - maar die besprekings bly te dikwels by woorde. Dis die doeners wat dinge afgehandel kry. Hulle vorder in die lewe, is ook goeie bondgenote. 'n Paar doeners saam maak ligte werk van groot werkopdragte. 

Daarom leer God se wysheidsboek ons: "Harde werk bring beloning; om net te praat, bring gebrek" (Spr 14:23).

Hierdie wysheid geld vir jou persoonlike materiële lewe, maar ook vir jou geestelike lewe. Die loon van toewyding aan God is geloofsgroei, vreugde en vrede. Toets God daarin. Werk hard in sy diens. Hy sal jou nie teleurstel nie.

Seënwense vir 'n doendag, mag die loon nie uitbly nie!

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief).

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css