Die Weg

 

Om regtig mens te wees

Moenie langer soos heidene lewe nie. Hulle gedagtes lei tot niks, hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard....lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.. Moenie die duiwel vatkans gee nie.... Moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag” – Efesiërs 4: 17-32.

Dit sit in die aard van die duiwel om negatief te wees, om alles te ontken en te verwoes. Boonop is hy ‘n genie, 'n groot sielkundige, 'n geslepe diplomaat, 'n ervare strateeg. Hy val mense juis aan waar en wanneer hulle op hul swakste is. Een van sy suksesvolste strategieë is om jou sover te kry dat jy jou sal bemoei met dinge wat buite jou verantwoordelikheid lê. So lei hy jou aandag weg van dit wat wel jou verantwoordelikheid behoort te wees.

Die bewys hiervoor vind ons in die feit dat ons ons altyd meer bekommer oor wat ander behoort te doen, as oor wat ons self behoort te doen. Hy maak ons goedkoop “wêreldhervormers" wat presies weet wat ander se verantwoordelikhede en foute is. (Wat 'n wonderlike wêreld sou dit nie wees as ons self alles sou doen wat ons van ander verwag nie!) Ja, en in hierdie pogings van ons om die wêreld te hervorm, betrek ons selfs God ook, en vra ons dikwels of God wel regverdig is: “As God regverdig en liefdevol is, waarom dit en dat?" As!

Laat ons ons tog liewer nie oor God se aandeel in die wêreld bekommer nie. Ons wil God voor ons regbank daag, maar Jesaja sit almal wat God tot verantwoording wil roep, op hul plek: “Julle is agterstevoor met alles, asof die pottebakker die klei is. Die maaksel kan mos nie van sy maker sê: ‘Hy het my nie gemaak nie"; die kleipot kan mos nie van die pottebakker sê: "Hy weet nie wat hy doen nie.’" (Jes 29:16 NAV).

Wat  'n bespotlike, onsinnige situasie! Hoe belaglik as 'n skepsel sy skepper bestraf! Ons verantwoordelikheid is om ons posisie as God se skepsele, onderdane en kinders te aanvaar en Hom as Skepper, Here en Vader te erken en te eer. Ons is mense. Hy is God. Niks meer en niks minder nie. En elke onverantwoordelike daad is ‘n opstand teen God. Laat ons daarom nie toegee aan die duiwel se liste en strategieë nie. In Christus het God self mens geword om ons weer mense te maak. Hy herstel ons egte, geseënde menswees.

Uit: Venster op het Leven – ds J Overduin.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css