Die Weg

 

Die Gees van die waarheid

Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig” – Johannes 16:13.

In die Johannes-evangelie speel die waarheid 'n deurslaggewende rol. Jesus self word as die Waarheid aangedui: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe" (Joh. 14:6). Hy is ook die Een wat die waarheid verkondig: "Die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom" (Joh. 1:17). Wat bedoel Johannes met die "waarheid"? Dit gaan vir hom in die eerste plek oor die waarheid ten opsigte van die weg tot redding en lewe. Satan as vader van die leuen wil mense graag verwar met allerlei leuens oor die weg tot ware geluk. Jesus self is die verpersoonliking van die waarheid: Hy is immers die ware weg tot die ewige lewe. Maar Hy sou nie vir altyd by sy dissipels bly nie. Nou beloof Hy dat die Heilige Gees, God se kinders in die waarheid sal lei. Hy sal ons vir die waarheid sensitief maak. In hierdie vers word die Heilige Gees as die boodskapper van die waarheid bekend gestel; die draer van die goeie tyding oor God se toekoms vir sy kinders.

Ons word dag vir dag aan leuens oor lewensgeluk blootgestel. Satan is nog steeds 'n meester in die kulkuns. Daarom moet ons sensitief ingestem wees om die stem van die Heilige Gees te hoor en volgens die Waarheid te lewe.

Stuur u lig en u waarheid dat dié my lei” (Ps 43:3).

Uit: “Hoop vir die Lewe” deur Johan Smit. Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css