Die Weg

 

Die Here jou God

"Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het" – Eksodus 20:2.

Die tien gebooie is die roetekaart vir
verloste mense om gelukkig te kan lewe.

Mense hou nie van wette nie. Dit lê hulle aan bande, bederf hulle vryheid. Christene dink ook so oor wette. Interessant hoe graag Christene verwys na die vryheid van Christenwees. Is dit dan nie wat die Bybel vir ons leer nie? En daarom sit hulle so effe in die verleentheid met die Ou Testament. Veral met die tien gebooie. Die gebod en verbod klink of dit die lewe uit 'n mens kan pers! Dit is onwaar! Die tien gebooie is woorde van liefde.

Eksodus 20:1 begin nie met 'n moet of 'n moenie nie. Dit begin met 'n liefdesverklaring. En dis hoe jy die hele tien gebooie, en trouens ook die hele Bybel moet verstaan. Selfs die moets en moenies het hulle oorsprong in dié liefdesverklaring.

God stel Hom bekend as die God wat mense verlos. Hy verlos hulle uit liefde. Hierdie gedagte moet duidelik by jou ingeprent wees wanneer jy die tien gebooie hoor of lees. Jy moet dié aanhef eintlik voor elke gebod lees. Elke gebod is omraam met God se verlossende liefde. En elke gebod het verder te doen met God se program van liefde. Want die tien gebooie is nie slawediens vir mense wat uit die een ellende verlos is om in 'n ander ellende gedompel te word nie. Dit is God se roetekaart vir verloste mense om gelukkig te kan lewe.

Die enigste lewende God is ook jou God. Die Here van Eksodus 20 is ook die Here van Betlehem en Golgota. Hy is dieselfde Here wat vandag voor jou staan met dié gerusstellende woorde: Ek is die Here jou God. Begryp jy dat die God van die Bybel nie 'n storieboekgod is nie? Verstaan jy dat Hy regtig lewe en baie graag die lewe vir jou mooi en goed wil maak? Dít is die aanbod van God se liefde vir jou.

Here, dankie dat die tien gebooie begin met 'n verklaring van u liefde vir my. Dankie dat U ook my God en Verlosser is.

Lees Eksodus 20:1-20; 3:13-15.

Johan Smit in “Toegewy aan God”. (Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css