Die Weg

 

Paasfees (2)

Later, nadat Hy uit die dood opgewek is, het sy dissipels daaraan gedink dat Hy dit gesê het, en hulle het die Skrif en die woorde van Jesus geglo. Terwyl Jesus vir die viering van die paasfees in Jerusalem was, het daar baie mense tot geloof in Hom gekom toe hulle die wondertekens sien wat Hy doen. Maar Hy het Hom nie op hulle verlaat nie, omdat Hy geweet het hoe hulle almal is. Hy het nie nodig gehad dat iemand Hom iets van ‘n mens vertel nie, want Hy het self geweet hoe mense is.” – Johannes 2:22-25.

Daar is niks in die lewe wat so seker is as die feit dat ons almal eendag moet sterwe nie. Daar is egter iets wat net so seker is as sterwe, en dit is die opstanding. Maar hoe seker kan ons daarvan wees? Ons sien hoe mense sterf, maar het iemand al die opstanding beleef? Wie op hierdie aarde kan so ‘n ervaring bevestig?

Die Paasgeskiedenis leer ons iets van die opstanding. Dit is interessant hoe Jesus self ook in die gelykenis van die ryk man en Lasarus oor die opstanding praat (Luk 16:19-31). Wat Jesus in hierdie gelykenis sê, is dat as iemand nie die Skrifte glo nie, geen openbaring uit die hiernamaals hom van sy sienswyses sal laat verander nie!

Dit is ook wat ‘n mens op Paasoggend van die dissipels sou kon sê: dat die gestorwe Jesus uit die graf opgestaan het, sou die dissipels nooit tot die geloof gebring het as hulle Jesus se woorde nie geglo het nie. Hulle sou sekerlik ander verklarings kon vind, soos dat die liggaam van Jesus deur iemand weggeneem is (Mat 28:13). ‘n Wonderwerk het nog nooit iemand tot blywende geloof gebring nie, want wonderwerke kan ook anders verklaar word. (Daarom het Jesus Hom altyd weerhou om wonderwerke te doen as Hy Homself daardeur moes bewys.)

Dit is nie die leë graf wat vir die dissipels tot geloof gebring het nie. Iets heeltemal anders het wel gebeur. Toe hulle die leë graf sien het die skille skielik van hul oë afgeval: “Later, nadat Hy uit die dood opgewek is, het sy dissipels daaraan gedink dat Hy dit gesê het, en hulle het die Skrif en die woorde van Jesus geglo” (Joh 2:22). Tóé eers het die dissipels alles verstaan wat Jesus vir hulle geleer het. Wat hulle op hierdie oggend beleef het, was net die hoogtepunt van al die gebeure waarvan hulle wel ooggetuies was, maar wat hulle nooit voorheen werklik begryp het nie. Hulle oë het oopgegaan en alles het nou vir hulle in plek geval. Die lewe van Jesus het nou eers vir hulle sin gekry. Dit was die Here wat op die aarde gewandel het, wat uitgedeel en gesond gemaak het, wat vir mense ‘n nuwe begin gegee het. Die klaarblyklike sinneloosheid van die gebeure by Golgota - wat die dissipels in paniek gedompel het en in wanhoop uitmekaar gejaag het- dít het nou vir hulle duidelike en oortuigende tekens geword. Nou, agterna, het daar vir hulle ‘n lig opgegaan oor sy raaiselagtige woorde en dade.

Ook vandag sal die gebeure van Paasfees nie vir ons kan oortuig as dit nie die Here self is wat dit aan ons oordra nie. Dit is nie die leë graf wat ons geloof afdwing nie, ook geen opstandingsberig nie, maar net die opgestane Christus self. In die ontmoeting met Jesus van Nasaret merk ons dat hier Iemand is wat sy lot uit liefde met ons lot verbind het en wat trou bly aan ons.  Daarom kan die koraal uit die Matteus-passie sing: “As ek die dag moet gaan,gaan U dan nie van my!” (Sien vorige boodskap). Wie deur hierdie verbintenis met Christus aangegryp is, weet dat Hy nie sal toelaat dat die dood tussen my en Hom sal kom nie, maar dat ek tot in alle ewigheid by Hom geborge is.

As jy die evangelies as onskadelike, menslike verhaaltjies wil lees, is dit goed en wel, maar eendag sal jy agterkom dat daar ‘n groter werklikheid agter alles skuil, nes die dissipels dit agtergekom het toe hulle by die leë graf gestaan het.

Uit: Helmut Thielicke: “Der Christ im Ernstfall” (Verwerk)

.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css