Die Weg

 

Kyk terug na die toekoms

"Die HERE het sy heilige arm ontbloot voor die oë van al die nasies, en al die eindes van die aarde sal sien die heil van onse God" - Jesaja 52:10 OAV.

Juda was in ballingskap weggevoer en Jerusalem vernietig. Die ballinge het aanvanklik gehoop op ‘n spoedige terugkeer na hul vaderland. Maar hierdie hoop het vinnig vervaag. Daar was geen ander ryk wat teen Babel kon standhou nie. Die volk wat in ballingskap verkeer het, se enigste hoop was op God gevestig, maar Hy was Hom stil. Hy het toegesien hoedat Sy volk na ‘n vreemde land weggevoer word. Hy was by magte om dit te keer, maar Hy het dit nie gedoen nie.  By die riviere van Babel het hulle gesit en ween as hulle aan Sion dink (Ps 137).

Terwyl grenslose moedeloosheid die volk oormeester het, spreek die HERE tot Jesaja: die uur van redding het gekom, God self sal uitkoms vir Sy volk bring. Die profeet roep die ballinge toe: “Die HERE het sy heilige arm ontbloot voor die oë van al die nasies, en al die eindes van die aarde sal sien die heil van onse God”.

Hierdie wyse van God se ingryping vind ons ook in die lydingsgeskiedenis van Jesus. Soos wat Israel (as gevolg van hulle eie sondes) deur magtige ryke oorval en vertrap is, net so het die Jode saamgestorm om Jesus van Nasaret te vermoor (as gevolg van ons sondes). God het nie ingegryp nie. Hy het die Jode laat begaan toe hulle hul haat en wraaksug op Hom uitgehaal het, toe hulle Hom bespot en beledig – ja selfs gedood het. Jesus se dissipels was radeloos. Hoe kon God dit toelaat? Hy, Jesus, wat die Koninkryk van die hemel kom stig het, wat die Vader se wil tot die uiterste volbring het, hoe kon Hy so deur God verlaat word? Wou God dan nie? Die ongelooflike moet geglo word. Jesus is dood. Dit is verby!

Maar toe, toe almal dink dis verby, het God weer Sy mag getoon. En hulle wat dit beleef het, het mekaar op die Paasoggend begroet met dié ongelooflike woorde: die Here het opgestaan, die Here het waarlik opgestaan!

Die woord van Jesaja aan die ballinge geld ook vir ons. As ons na die wêreld om ons kyk, na die geestelike en sedelike verval, dan vra ons: waarheen is alles op pad?  Alle vastigheid word onder ons voete weggeruk. Wat vir ons heilig was, word ‘n voorwerp van spot. Ons kyk bekommerd na ‘n wêreld wat God vergeet het en waar die sonde hoogty vier, waar alle bande losgebreek is en die menslike hartstogte botvier.

So praat en dink ons, ja, ons wat glo in Hom wat Israel verlos het en Sy Seun uit die dood uit opgewek het. Ons glo dit, maar put geen krag uit daardie geloof nie. Dan kan ons met reg vra: glo ons werklik dat God regeer en vorm daardie geloof die grondslag van ons denke en dade?  As die vrees ons wil omklem, moet ons dink aan die woorde van die profeet en geduldig wag op die "ontbloting van God se heilige arm".

Dít is die opstandingslewe en die opstandingsvreugde; die bron waaruit ons elke dag ons lewenskrag moet put. Israel se profete het nooit moeg geword om altyd weer terug te gryp na die groot feit nie – die uitredding van die volk uit Egipte. Só het God toe gehelp, en só sal Hy weer help. Ook Asaf kry weer nuwe moed as hy in moeilike dae weer dink aan die groot dade van God uit die verlede: "Ek dink aan die dade van die HERE; ja, ek wil dink aan u wonders uit die voortyd en al u werk oordink, en ek wil peins oor u dade" (Ps 77:12-13). Netso kry ons wat Paasfees vier, wat die geloof besit, wat die ontbloting van die heilige arm van die HERE in Sy Woord en die geskiedenis gesien het, ook weer nuwe moed en put nuwe lewenskrag en lewensvreugde uit dié sekerheid dat Hy dieselfde is, gister, vandag en tot in ewigheid. En ons weet dat die dag van verlossing naby is (Ef 4:30).

-dw- (Verwysing: Ds  L M le Roux in “Die Blye Boodskap”)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css