Die Weg

 

Angsvolle gedagtes

"As my gedagtes binne-in my vermenigvuldig, dan verkwik u vertroostinge my siel" - Psalm 94:19 OAV.

Ons sê dit word donker wanneer die son agter die horison wegsak. Ons sê ook dit word donker wanneer twyfel en moedeloosheid ons oorval. Laasgenoemde is geestelike donkerheid. En met die donkerheid kom vreesgedagtes en angs. Die Psalmdigter sê dit baie beskrywend: “dan vermenigvuldig die gedagtes binne-in my”. Die een vreesgedagte lei na die volgende, en so word die gedagtes al hoe meer en al hoe donkerder, en groei die vrees en die onrus.

Wie van ons het nog nooit vreesgedagtes ondervind nie? Ook die digter van Psalm 94 het dit geken. Daar is die moeilike dae van siekte en dood. Mense wat hul geliefdes, soms na ‘n bittere lyding, aan die dood moet afstaan. Ouers wat hul kinders moet begrawe en in droefheid vra: waarom, waarom, waarom? Klein kindertjies wat sonder ‘n pa of ma moet groot word. Gedagtes wat knaag en vreet, en dan volg soms ook nog die selfverwyte: het ek maar ....... Het ek hom/haar maar meer waardeer, meer liefgehad en was ek maar meer vergewingsgesind gewees!

Maar dit is nie al wat die slaap van ons laat wyk nie. Daar is ook die gedagtes aan misdaad, geweld, ongeregtigheid, politieke woelinge en finansiële probleme wat ons aan die keel gryp. Dít bring benoudheid oor ons en ontneem ons van ons lewensblydskap. 

Dan helaas,het ons ‘n innerlike stryd met onsself. Ons het so ernstig probeer om volgens die Woord van God te lewe, maar elke dag word ons weer vasgevang in die strikke van die sonde. Die mag van die bose probeer gedurig om ook ons geestelike lewe te oorheers. Ons kan saam met Paulus sê: “Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek” (Rom 7:19). Ons eie gewetes kla ons aan.

Alles hierbo bring ons gedagtes in ‘n warboel – ons gedagtes vermenigvuldig binne-in ons, soos wat die Psalmdigter dit stel.  Dit gee aanleiding tot spanning, onrus, vrees en angs. Maar, sê Psalm 94, as ons gedagtes ons slapeloos laat rondrol, moet ons ons tot die HERE wend. Wanneer ons moedeloos begin raak en die angs dreig om ons lewe te oorheers, moet ons wegkyk van die aardse dinge en ons aandag en gedagtes op die HERE vestig. Ons sál vertroosting by Hom ontvang as ons maar net na Sy stem wil luister. En as ons uit die diepte van ons ellende na Hom roep, dan ontferm Hy Hom oor ons. Dan bring Hy die uitkoms. Dan kan ons ook saam met die Psalmdigter sê: “As die HERE my nie gehelp het nie, was die stilte van die graf seker al my tuiste” (Ps 94:17 NAV). (Lees gerus weer die vorige boodskap).

As in my angs en teëspoed
die krag en moed
my wil begewe,
as vyande van veglus brand,
dan kéér u hand
en red my lewe.
Die HEER is goed en wondersterk:
Hy sal sy werk
deur niks laat keer nie.
Laat my, o HEER wat my bewaar,
tog nóú nie vaar,
en nimmermeer nie.
(Psalm 138:4 berym)

-dw-

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css