Die Weg

 

Om jou eie weg te volg en jou kop te stamp

Maar Moses het gesê: Waarom oortree julle tog die bevel van die HERE, aangesien dit tog nie sal geluk nie?” – Numeri 14:41 OAV.

Die boek Numeri skilder die geskiedenis van die volk Israel gedurende hul trek deur die woestyn tot voor hul aankoms in die beloofde land. Met geloof en in volle vertroue op God het hulle onder die leiding van Moses die dorsland binnegetrek op pad na Kanaän. Hulle het vergesigte gekoester van ‘n land wat oorloop van melk en heuning. 

Maar die volk se geloof kon nie die toets van die tyd deurstaan nie. Met die eerste beproewings wat God op hulle weg geplaas het, het hulle begin terug verlang  na die slawehuis van Egipte.

Dis dieselfde volk wat, nadat hulle deur die Rietsee getrek het, hulle geloof in God en Moses bevestig het (Eks 14:31). Maar toe hulle die opdrag van God ontvang om die beloofde land binne te val, het hulle bang geword (Num 13). Hulle het na die vyand gekyk en hulle eie swakheid raakgesien sonder om te vertrou op die almagtige teenwoordigheid van God wat saam met hulle getrek het. Hulle het bang geword vir die vyand en hulle teen Moses en Aäron verset. Die HERE kondig daarna ‘n straf oor die volk aan omdat hulle Sy almag in twyfel getrek het (Num 14: 20–38). Hy laat hulle omdraai, weer terug die woestyn in.

Pas het God, as gevolg van hulle ongeloof en ongehoorsaamheid, die deur na Kanaän vir hulle toegemaak, of die volk, nou oortuig van hulle eie krag, rebelleer teen God en besluit om tog die land in te val. Moses word geïgnoreer en God word opsy gestoot. Hulle trek sonder die verbondsark teen die vyand op. Omdat hulle teen die wil van God gehandel het, moes hulle uiteindelik die gevolge van hulle onbesonnenheid dra.

Daar is die weg van geloof vir elkeen van ons. Dit is die weg wat God vir ons bepaal het en waarop Hy ons lei. As ons aanhou om hierdie weg te volg, nie twyfel nie en op God bly vertrou, sal ons die heerlikheid van God aanskou in die land van die lewendes (Ps 27:13), al lyk alles soms oorweldigend en duister. Maar die weë van ongeloof en ongehoorsaamheid eindig altyd in ‘n doodloopstraat -  die dood self. “Tog was God met die meeste van hulle nie tevrede nie, want hulle het in die woestyn omgekom. Hierdie dinge het gebeur as voorbeelde vir ons dat ons ons nie soos hulle deur sondige begeertes moet laat dryf nie.” (1 Kor 10:5 NAV).

Hoeveel keer word ons nie self voor hierdie besluit gestel nie: om God te vertrou en aan Hom gehoorsaam te wees, of om ons kop te stamp deur staat te maak op ons eie insig en vermoëns?

Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” – Matteus 5:3 NAV.

Laat ons dan met vertroue en in gehoorsaamheid op dié weg gaan waarop Hy ons stuur. (Sien ook die vorige boodskap).

-dw-
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css