Die Weg

 

Om rein van hart te wees (1)

Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien” – Matteus 5:8 OAV.

Iemand wat sy brood aan albei kante gebotter wil hê, is ‘n dubbelhartige mens. So ‘n persoon het “twee harte” en dus twee monde. Die Bybel sê so iemand is “innerlik verdeeld” en ”onbestendig in al sy weë” (Jak 1:8 OAV). Wanneer dit hom pas sal hy met God rekening hou, maar dan gaan dit nie om God nie, maar alleen om sy eie VOORDEEL wat hy daaruit kan verkry. Dit is onreinheid van hart. Sy motiewe en doelstellings is nie suiwer nie. Hulle hou altyd ‘n uitweg na alle kante toe oop. Hulle draai die mantel na die wind. Hulle vertoon ‘n geveinsde vroomheid.

Hoekom was die Here Jesus so heftig téén die vroomheid van die Fariseërs? Kyk na die kontras tussen die saligsprekinge in Matteus 5 en die strafrede van Matteus 23: “Geseënd is die wat rein van hart is” (Mat 5:8 NAV) teenoor “Ellende wag vir julle skrifgeleerdes, Fariseërs, huigelaars ” (Mat 23 NAV). Die Fariseërs se hele vrome doen en late val onder God se oordeel vanweë hul godsdienstige onreinheid, dubbelhartigheid en dus geveinsdheid. Die Fariseërs het hulle besig gehou met die tallose uitwendige reinigingsgebruike eerder as om aandag aan die reinheid van hulle harte te skenk. Hulle het nie verstaan dat al hierdie seremoniële reiniging waardeloos was sonder die innerlike reinheid van hul harte nie. Jesus wys vir hulle op die noodsaaklikheid van die innerlike reinheid van hul harte (Mat 15:18). Hulle mis dit juis, en daardeur mis hulle alles. Hulle mis God self, want Jesus sê: “Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien”.

Jesus maak dit baie duidelik dat elke uitwendige en formele reiniging, sonder innerlike reinheid van die hart, huigelary is. Jesus gebruik krasse beelde as Hy vir die Fariseërs sê: ”Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid is” (Mat 23:27).

Reinheid beteken egter nie om sonder sonde te wees. Maar dit verskil wel van die gedrag van die Fariseërs. Wanneer Jesus die Fariseërs ontmasker, dan word hulle woedend en rasend van haat. Hulle verhard hulle teenoor God en wil Jesus doodmaak. Hulle soek nie die skuld by hulself nie, maar by Jesus. Daarteenoor sal die navolgers van Christus die skuld by hulself soek, hulle sal hulle verootmoedig, en hulle sonde en geveinsdheid in skaamte bely. Wanneer Paulus in Romeine 7:13-26 oor die tweespalt in sy eie lewe skryf, doen hy dit met ‘n bloeiende én opregte hart en kan hy uitroep: “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?” (Rom 7:24).

Paulus is godsdienstig rein in die opregte erkenning van sy sondige bestaan, soos wat hy dit ook bely. Wie sy onreinheid voor God en mense met ware berou betreur, sy optrede is rein, en daarin openbaar hy ook die reinheid van dié één wat hy soek en begeer om Koning van sy hart te wees, nl Jesus Christus.

Dawid bid om hierdie reinheid, opregtheid, suiwerheid en eerlikheid:  “verenig my hart tot die vrees van u Naam” (Ps 86:11 OAV), of soos dit berym is: “Neig my hart en voeg dit saam tot die vrese van U Naam” Die navolgers van Christus verheug hulle en is dankbaar oor die snoeiskêr van die Vader, omdat die ranke “gereinig”  word sodat hulle meer vrugte kan dra (al protesteer die oue mens in hulle daarteen). Die Fariseërs se harte is so vol haat, dat hulle alleen weet hoe om hulle teen Christus te verset, al lei dit tot die dood. Hulle wil nie gereinig word deur die bad van die wedergeboorte - deur die Woord en die Gees van Christus - waardeur hulle rein kan word nie. Ons kan nie ons reinheid van hart vir selfs een oomblik losmaak van Hom wat self rein en volkome volmaak is nie.

(Word vervolg)

(Verwysing: Ds J Overduin - Gods grote verrassing).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css