Die Weg

 

Vrede

En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle hart en gedagtes die wag hou in Christus Jesus” – Filippense 4:7.

Danksegging en vrede: Is daar 'n verband tussen dié twee? Ja ek dink tog so. Die vrede neem by jou intrek as die kommerplooie versag en die lagplooitjies begin wys. Dis die vrede van iemand wat dankbaar is oor God wat daar is, God wat luister, God wat verstaan en meer nog: God wat omgee.

Dis 'n besondere soort vrede waarvan die Bybel praat. Dit is 'n vrede met 'n bomenslike kwaliteit. Jy kan dit nie met jou verstand ontrafel of verduidelik of verstaan nie. Dis 'n vrede wat van God kom. En dit is teen die natuurlike verloop van sake in. Wanneer ander mense die hare uit hulle kop trek van angs en kommer, kan jy glimlag omdat daar vrede in jou hart is. Jy het jou saak aan die Here oorgegee. En jy vertrou Hom.

Dit is ook veelseggend dat Paulus sê dat God se vrede oor 'n mens se hart en gedagtes wag hou. Wanneer ons gedagtes op hol wil gaan en ons hart woes begin klop van vrees vir omstandighede, bring God se vrede ons tot bedaring, dit bring rus, dit bewaar ons van angs en moedeloosheid. Die angs wat omstandighede meebring, kan 'n mens soms eensklaps oorval. En dis dan wanneer ons die beskerming van God se vrede nodig het. Hy wil dit graag vir jou gee. Vra net ... en dank Hom daarvoor.

Dank God nou vir sy vrede en ervaar dit in jou lewe.

Uit: “Hoop vir die Lewe” deur Johan Smit. (Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css