Die Weg

 

Mismoedigheid

"En ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos; maar nou is dit vandag, met dit alles, die derde dag vandat dit plaasgevind het. " – Lukas 24:21 OAV.

Die dissipels se feite was korrek, maar die gevolgtrekkings wat hulle uit hierdie feite gemaak het, was verkeerd. Enigiets wat dui op geestelike mismoedigheid is altyd verkeerd. Wanneer moedeloosheid of beswaardheid die oorhand oor my wil kry, moet ek myself blameer, nie vir God of enige iemand anders nie. Mismoedigheid het baie keer sy oorsprong by die onvoldoende bevrediging van menslike begeertes. En die menslike drang is gewoonlik dat dit wat ek wil hê, ek nóú moet hê. Op geestelike vlak wil ek nou dadelik 'n antwoord van God eis, in plaas daarvan dat ek God self eers soek - die Een wat die antwoord verskaf.

Wat het ek gehoop dat God sou doen? Sê ek ook: “maar nou is dit vandag, die derde dag, en het Hy nog steeds nie gedoen wat ek verwag het nie”? Is my mismoedigheid daarom regverdigbaar en is ek geregtig om God te blameer?

Die oomblik dat ons daarop aandring dat God vir ons 'n antwoord op ’n gebed moet gee, het ons die spoor byster geraak. Die doel van gebed is dat ons met God in aanraking kom - nie om 'n onmiddellike antwoord te ontvang nie. Die antwoord kan later kom en dalk op ’n manier waarop ons dit nie verwag het nie!

Ons soek na droomgesigte vanuit die hemel en verwag aardskuddende gebeurtenisse om God se krag te sien. Dan raak ons mismoedig as niks skouspelagtig gebeur nie. En ons wil nooit besef dat God die hele tyd teenwoordig is in alledaagse dinge en in mense om ons nie. As ons maar net dit wil doen wat ons hand vind om te doen, dié dinge wat in die geloof die naaste aan ons lê. Een van die verbasendste openbarings van God word sigbaar wanneer ons besef dat dit in die alledaagse dinge is dat die heerlike Godheid van Jesus Christus 'n werklikheid word. Soos wat die Emmaüsgangers beleef het.

Lees ook Lukas 24:13-32

Oswald Chambers (My Utmost for His Highest) - effens verwerk.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css