Die Weg

 

Met God op weg

Die mense daar was baie vriendelik teenoor ons. Omdat dit begin reën het en koud was, het hulle 'n vuur aangesteek en ons almal daarby verwelkom” – Handelinge 28:2.

(Lees saam met die vorige twee boodskappe)

Storm en reën, ’n slangbyt – dit lyk asof ook die natuur teen Paulus saamgesweer het. Maar, alhoewel dit wil lyk asof alles teen Paulus is en hy dalk nooit sy eindbestemming sal bereik nie, bly die hulp nie uit nie.

Wildvreemde mense ontferm hulle oor Paulus en sy mede-reisgenote. God red sy boodskapper op onvoorstelbare wyse en laat deur Paulus verdere wonders op die eiland Malta (Melíte) geskied. So verander die verskriklike skipbreuk in ’n onverwagse geleentheid om die blye boodskap van die evangelie ook na die mense van Malta te bring. Paulus, ‘n gevangene ter wille van Christus, word deur God gebruik en toegelaat om die evangelie op ’n konkrete manier aan die heidene te bring, ten spyte van, of juis as gevolg van, baie teenspoed.

Enkele weke later bereik Paulus Italië. Daar het die ander Christene só na sy aankoms uitgesien dat hulle hom van  vêraf tegemoet loop. Paulus was weliswaar as gevangene onderweg, maar hy het daarby voortdurend beleef hoe God hom bewaar het, sodat hy sy eindbestemming ongeskonde kon bereik en sy doel kon verwesenlik: om voor die keiser van Rome vir Jesus Christus te kon getuig.

Die geskiedenis van Paulus is vir ons opgeteken om ons geloof te versterk en op ’n vaste grond te plaas. Ook die einde van Paulus se lewe maak dit vir ons duidelik. By alles wat Paulus beleef het, het Jesus Christus voorop gestaan. Ook in Rome preek hy vir die Jode en nie-Jode. Hy bly by sy bekentenis: God het Hom deur Jesus Christus openbaar. God is die hoop van Israel. Vir hierdie hoop is Paulus bereid om in kettings te wees, en ook te sterf.

Dit lê nie in ons mag om geloof in ander mense te wek nie, maar ons moet die Woord verkondig. En ons kan mét Jesus leef. Hy sal ons help om die beproewinge wat oor ons pad kom die hoof te bied. Ons sal ook van ons hoop en ervaringe kan vertel om dan dankbaar ons ongeboeide hande tot Sy eer te gebruik.

Met God wag jy
op die môre -
sonder angs;

begin jy jou take -
sonder vrees vir
probleme
wat mag kom;

betree jy nuwe weë -
sonder sorge wanneer
en waar dit sal eindig.

Al beland jy op ’n afdraaipad,
sal jy nie twyfel
aan jou eindbestemming nie;

in die donker
sal jy reeds kan hoop op die lig,
as jy huil,
jou reeds kan verheug in jou lag.

Jy sal nie net weet nie, maar seker wees,
sonder dat bewyse jou wys,
Hy gebruik ’n net om jou val te stuit,
sodat jy rustig kan slaap in die storm,
en kan ontwaak,
getroos die toekoms tegemoet.

(Wilma Klevinghaus)


Uit: Neukirchener Kalender: 2009 (effens verwerk)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css