Die Weg

 

Volmaak in liefde! - soos jou Vader in die hemel

Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is”  - Matteus 5:48.

Dit is ‘n baie groot opdrag! Volmaak soos God! Kan dit? Ons wil sommer dadelik vir die Here sê: “U kan tog nie van my as sondaar verwag om volmaak te wees nie!” En daarmee verontskuldig ons onsself en bly leef in ons onvolmaaktheid. En in ongehoorsaamheid.

Hierdie oproep tot volmaaktheid, is geen eis dat mense nou op aarde reeds sonder sonde sal leef nie. Dit, weet ons, sal eers in die hiernamaals moontlik wees. Ons kindskap van God is egter nou reeds ‘n werklikheid. Die nuwe lewe deur die Gees word nou reeds sigbaar. Veral in ons strewe om liefde (die grootste gebod) uit te leef. Die dissipel van Jesus se liefde behoort sonder reserwes, onbegrens, tot by sy vyande te strek. Daarom moedig Hy ons aan: Wees volmaak in liefde! – soos jou Vader in die hemel.

Volmaak in liefde! En nie net liefde vir die mense wat jou goed behandel nie. Nee! Jesus sê: “Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, ...”  En die baie sterk motivering is: Dit is soos God, julle Vader, dit doen! Hy sorg nie net vir gehoorsame en goeie mense nie. Hy gee son en reën vir almal op aarde, ongeag van wie hulle is. Vir vyande en volgelinge. So moet ons ook wees. Wie is ons? Die hemelse Vader se kinders. Kinders van die Vader is uit God gebore. Weer gebore. Geestelik verander, omdat die Heilige Gees in ons ‘n ander gesindheid, ‘n ander liefde kom werk het. Daarom word die onmoontlike moontlik. Mense kan soos die Vader in die hemel begin liefhê. Selfs jou vyande liefhê - en vir jou vervolgers bid.

Watter bevryding gee dit nie! Bevryding van wrok en haat, wat jou van binne af opvreet. Liefde laat lewe groei en bloei. Want liefde groei uit die lewe wat die Gees in ons laat voortkom. Haat maak dood, nie net diegene wie jy haat nie, maar jouself ook. God se liefde in Jesus Christus bereik sy doel in ons. Soos Hy my en jou liefgehad het nog voor ons sy kinders geword het, toe ons nog sy vyande was, so stel Hy ons in staat om méér te lief te hê as kinders van die wêreld.

Leef jy vandag met ‘n wrok teen iemand wat jou of ‘n geliefde skade gedoen het. Misdaad wat gepleeg is, moord of verkragting, onregmatige afdanking, belediging en naamskending, jou kind seergemaak? Wraak neem, pas nie by God se kinders nie. Bid vir jou vyande, vergewe soos God jou vergewe het. Maak jou liefdesgrense wyer. Wonderlik om te ervaar dat God se liefde jou in staat stel om soos Hy onbegrens te wil liefde uitdeel.

Volmaak in liefde - streef daarna om nog meer soos jou hemelse Vader te wees!

Dr. Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)


 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css