Die Weg

 

Jou rots in stormgedruis

"God is vir ons ’n toevlug en beskerming" -  Psalm 46 : 2.
"Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder; my God, my rots by wie ek skuil" – Psalm 18:3.

Ds Gabe van Duinen noem Psalm 46, die Psalm van die "stormgedruis".

Psalm 46 se beskrywing van die wêreldgebeure is nogal skrikwekkend: die aardbodem verskuif, die berge skud en sink weg in die diepte van die see, nasies raas en koninkryke wankel. Ons lees van oorloë en verwoesting, van spiese, boë en brandende strydwaens.

Ons ken ook hierdie stormgedruis waarvan Psalm 46 praat. Ook óns wêreld word hopeloos deurmekaar geskud. Deur die verontrustende woelinge en bedreigings wat oor ons heen raas, gee die vaste aarde ook onder ons voete pad. Die berge wat vir ons vertroue moes inboesem - die vastighede waarop ons altyd vertrou het en ons gedink het nooit sou wankel nie - sink weg. En . . . hoe dikwels druis die storms nie deur ons eie huise, harte en lewens nie?

Maar te midde van al hierdie gedruis staan die ewige Rots: "God is vir ons ’n toevlug" (Ps 46) en 'n "rots by wie ek skuil" (Ps18).

Gelukkig ken ons mos ook die "Rots in die stormgedruis” waarvan die Psalmdigters praat, dan nie? Hy is aan ons deur Jesus Christus in Sy volle majesteit en heerlikheid geopenbaar. In en deur Christus het God "ons rots in stormgedruis" in hierdie wêreld geword.

Luister dan hoe sing Hanna in 1 Samuel 2:2: "Daar is geen heilige soos die Here nie, buiten U is daar nie een nie, daar is geen rots soos ons God nie".  Beleef ons ook God só as rots? Is Hy ons rots in tyd van angs en nood? Is Hy die vaste fondament wanneer alles om ons begin wankel? Jy kan alleen ware vastigheid in hierdie wêreld verkry deur jou aan God, die ewige Rots, te verbind.

Kyk dus weg van die wêreld en wat om jou gebeur. Hou jou oë gevestig op jou verhouding en verbondenheid met God. "Die HERE van die leërskare is met ons; die God van Jakob is 'n rotsvesting vir ons." (Ps 46:12 OAV).

-dw-

(Met aanhaling van ds Gabe van Duinen)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css