Die Weg

 

Ons is nooit alleen nie - ondervinding is beste leermeester

Hy het gesien hulle roei swaar, want die wind was teen hulle. Teen dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom, en Hy wou langs hulle verbygaan. Toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gedink dit is 'n spook. Hulle het hard geskreeu, want hulle het Hom almal gesien en groot geskrik. Maar Hy het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie. Hy het toe by hulle in die skuit geklim, en die wind het gaan lê. Hulle was heeltemal uit die veld geslaan ” - Markus 6:48-50 NAV.

Dit was reeds laatmiddag toe Jesus sy dissipels aansê om in die skuit te klim en na Betsaida te roei. Hy wou self eers die skare huis toe stuur en daarna gaan bid. In teenstelling met die vorige keer, waar Hy gedurende die storm self aan boord van die skuit was, stuur Hy hulle nou alleen. Jesus het die dissipels agterna gekyk en gesien dat die wind teen hulle was en dat hulle swaar roei.

Hy het 'n opdrag aan hulle gegee, maar hulle nie gevrywaar van die probleme wat hulle sou ondervind nie. Hierdie was 'n verdere geloofsles vir die dissipels (sien “Die storms van die lewe” 19 Junie 2013), want daar sou 'n tyd kom dat hulle sonder die fisiese teenwoordigheid van Jesus die genadelose wêreld sou moes invaar. Hulle moes bevry word van hulle skrik en angs sodat hulle die probleme van die lewe met selfvertroue sou kon aandurf, maar met die besef dat Christus sy wakende oog altyd oor hulle hou. Hulle moes Jesus leer ken as die Christus deur wie die Vader alle dinge regeer. Wanneer die storms later in hulle lewens vreesaanjaend sou voorkom, kon hulle terugdink aan hierdie ervarings en aan die mag en heerlikheid waarmee Hy oor alle dinge regeer. Laat ons maar ook uit hierdie les iets leer.

Ons geswoeg en nood gaan nie by Jesus verby nie. Ons sien Hom nie, en somtyds dink ons Hy het ons vergeet; maar dit is nie waar nie. Hy hou steeds 'n wakende oog oor ons. Hy kyk af op ons worstelinge in hierdie wêreld. Hy aanskou die stryd wat ons moet stry, teen onsself en die wêreld. Hy sien die golwe en die storms in ons lewens. Hy kyk ook nie met die oog van 'n toeskouer aan die kantlyn nie. Hy weet wanneer die geveg te hewig, die nag te donker en die versoeking te groot vir ons word.

Dit was 'n lang nag vir die dissipels. Hulle was uitgeput en in groot nood. Maar Jesus het hulle nie vergeet nie. Sonder dat hulle dit geweet het, het Hy hulle gadegeslaan. Hy het hulle stryd en gevaar gesien. Hy het vir hulle gebid. Toe het Hy gekom om hulle te red.

Net so gaan dit ook met elke Christelike lewe. Somtyds wil dit vir ons lyk asof Christus sy kerk verlaat het. Maar die lang nag gaan verby, dan wanneer die dag begin breek, kom Hy. En wanneer Jesus kom sal daar 'n einde wees aan die swaarkry en sal die lewensstorms bedaar. 

Hou dus goeie moed, ons is nie alleen nie. “Salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het” (Joh 20:29).

-dw-  (Met erkenning aan JR Miller)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css